Die Tweede Keer

Die drie weke kampe was nou juis nie iets om oor huis toe te skryf nie. Daar is nie juis insidente wat ek kan onthou van die kampe nie. Êrens in 1977 kry ek weer my oproepinstruksies. Weer drie
maande en weer grens toe.

Hierdie keer is die tydsberekening nie aan ons kant nie. Ek is ʼn jaar getroud en wil nie weggaan nie en ons moet net voor Kersfees grens toe gaan. Dit was om die minste te se uiters slegte tydsberekening
gewees van die army. Wel ons is weg.

Ons het geland op Grootfontein. Ek kan onthou toe ek uit die vliegtuig klim het hierdie warm walm my getref. Dit het behoorlik my asem weggeslaan. Terwyl ons uitklim land daar ʼn chopper en
die medics laai ʼn gewonde soldaat uit, en plaas hom in ʼn wagtende
ambulans. Net bloed waar jy kyk. Watter verwelkoming was dit nie vir ons gewees nie.

Daardie Kersdag is ons in die veld en besig met opleiding. Ons het twee of drie ure opleiding gehad. Daarna het ons, ons Kersmaal geniet. Kan nie onthou wat dit was nie, maar dit was nie buitengewoon nie. Die res van die dag was ons af gewees. Ek meen ons was myle van enige plek af gewees. In die bleddie bos, Nie eers musiek of niks nie.

Hulle deel toe aan ons briefies uit wat kinders van laerskole gesit en skryf het vir die omies op die grens. Daardie dag het baie groot mans gesit en huil. Daardie onskuldige briefies, met prentjies op.
Op daardie stadium was ons so ʼn week weg gewees van ons huise af en het nog nie pos van ons geliefdes gehad nie. So ons was baie stil en emosioneel gewees.

Onwillekeurig doem die beeld van die gewonde soldaat in die helikopter op. Gaan ons half stukkend geskiet huis toe of gaan hulle vir ons een van daardie plastic suits (body bags waarin hulle die lyke gesit het.) aantrek voor ons huis toe gaan.

Met daardie rou emosies het ek die dag afgesluit.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 145 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *