Die Aanval

So een middag half laat teen skemer se kant as ek reg kan onthou het die MPLA soldate aan die anderkant van die grens, seker baie verveeld net soos ons het die middag besluit vir so ʼn bietjie opwinding. Hulle het so ʼn paar mortiere in ons rigting geskiet.

Onthou dit was baie warm gewees en ons drag was net onderbroeke gewees terwyl ons in die tente was. As ons dit buite die tente gewaag het, het ons darem ons boots aangehad. Die dag met die “aanval” was weer baie warm gewees. So ons het net weer in ons onderbroeke gelê in die tente.

Ons hoor almal die eerste mortier aankom. Ons besef hier is moeilikheid en ons moet uit ons tente na ons loopgrawe toe. Die eerste ding is dat ons in ons boots inspring. Daar is nie tyd om die
boots vas te maak nie. Die volgende stuk toerusting wat ons gegryp het was ons webbing.

Nou vir die wat nie weet nie, die webbing het so ʼn paar klein sakkies gehad waarin mens jou magasyne vol ammunisie gesit het, en dan op die rug het dit twee groterige sakke gehad waarin ons dixies
(eet bakkies) gesit was. Dan êrens op die webbing was daar ook ʼn sak waarin jou waterbottel gepas het.

In elk geval het ons nou al ons webbing aan, boots aan, gryp die staaldak sit hom op die kop en natuurlik ons gewere. Daar hardloop ons na ons loopgrawe toe. Die verskriklike aanval het nie lank geduur nie. Ek dink hulle het slegs twee of drie mortiere op ons geskiet. En gelukkig het almal buite die basis geval.

Na die tyd het ek baie gelag oor die situasie. Halfkaal soldate wat oorlog wil maak. Daardie paar sekondes het soos ʼn ewigheid gevoel. Ek kon nie die gevoel beskryf wat deur my gegaan het nie. Hier hoor ons dood aankom en jy doen sommer ʼn paar dinge geyk, naamlik bid, smeek, huil, bang en optree om te veg.

So ʼn paar dae later hoor ons net ‘n groot ontploffing buite ons kamp. Daar begin die ritueel weer met die boots, webbing, staaldak en geweer reguit na die loopgrawe toe. Daar aangekom wag ons in spanning vir die tweede ontploffing en aanval. Maar niks. Een offisier loop daar verby en wil hom doodlag vir ons wat so in die loopgraaf sit en wag vir die oorlog. Ons kyk die man so snaaks aan en hy se vir ons dat hulle die Genie korps se manne uitgekry het om die mortiere te vernietig wat buite die kamp geval het. Maar soos gewoonlik het iemand vergeet om ons in te lig.

Die twee voorvalle het aan my geruk en my soos seker baie ander manne se senuwees was aan flarde gewees. Maande daarna het ek nog aan die skok gely van die aanval en die ontploffing.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 170 times, 1 visits today)
Advertisements
 

One thought on “Die Aanval”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *