Die Vredemaker – Handelinge 9:26-31

Austin Higgs

Na sy Damaskuservaring is Saulus nou vuur en vlam vir die Evangelie. Hy wil nou gaan regmaak waar hy oral verbrou het, en terselfdertyd wil hy daardie wonderlike Evangelie wat hy so pas ontdek het met elkeen deel wat hy teëkom. Hierdie ou insidentjie in Damaskus toe die Jode hom verwerp het en wou vermoor, rol soos water van ‘n eend se rug af.

Dit borrel in Saulus wanneer hy inderhaas vertrek na Jerusalem. Hy het maar baie las van sy oë van daardie dag toe God se lig hom verblind het, maar dit is sommer ‘n kleinigheid. In sy gemoed sien hy al hoedat die gelowiges hom met ope arms ontvang in Jerusalem. “Hulle sal só bly wees as hulle my sien en besef dat ek verander het!”

Na ‘n paar dae se stap kom hy in die stad aan. Hy gaan soek dadelik die gelowiges op waar hulle in die geheim bymekaarkom. Met ‘n glimlag wat dreig om reg rondom te gaan, stap hy die vertrek binne. Grootoog en vervul met vrees staar die handjievol gelowiges hom aan. “Shalom! Ek is Saulus!” groet hy opgewonde.
Maar al wat Saulus tot sy grootste frustrasie kry, is totale afsydigheid. “Hy is hier met ‘n slim slenter om ons tronk toe te sleep,” fluister hulle vir mekaar, en een-vir-een verdwyn hulle totdat Saulus stoksiel alleen in die vertrek oorbly.

“Here, wat gaan aan? Ek dog dan…….” Saulus is verslae. Niemand wil hom vertrou nie. Ja, hy kan hulle sékerlik nie kwalik neem nie. Maar hy hét dan vir hulle gesê dat hy nou een van hulle is. Verstaan hulle dan nie?

Nou is Saulus alleen in die wêreld. Sy medegelowiges kruip vir hom weg uit vrees dat hy maar net voorgee. En sy eertydse Fariseër-vriende durf hy nie eers nader nie, want hulle sal hom verséker doodmaak na sy “verraderlike” oorstap na die “vyand”. Saulus wil huil van frustrasie. “Here, wat moet ek doen?” huil hy.

En dan gebeur Barnabas! Liewe ou Barnabas! Daardie aand het die gelowiges soos gewoonlik weer onder die grootste geheimhouding bymekaar gekom. Maar die atmosfeer was baie stroef. Die gesprek het oor één ding gegaan: Saulus! Daardie slinkse heksejagter het nou met ‘n splinternuwe taktiek gekom om die gelowiges uit te roei. “Hy maak asof hy een van ons is, en nes ons hom begin vertrou, dan slaan hy toe!” kerm een kêrel bewend van angs.

“Nee wat,” reken Barnabas, “ek is séker daarvan dat sy bedoelings opreg is. Ek sal hom môre gaan opsoek en met hom gesels.”

En so waag Barnabas sy lewe om na Saulus te gaan soek. Saulus val amper van sy stoel af toe hierdie bebaarde reus by sy kamertjie instap. Vriendelikheid en liefde straal uit die man as hy vir Saulus groet. “Ek hoor dat jy nou een van ons is. Is dit rêrag waar?”
Dan vertel Saulus hom van sy Damaskuservaring. Hy hou sommer dadelik van hierdie opregte man met die
innemende geaardheid. Met hóm sal hy ‘n lang pad kan saamstap. Min het Saulus geweet hoe lank die pad vorentoe sou wees wat hulle letterlik sou saamstap. “Maar nou is almal bang vir my! Niemand wil my aanvaar nie…..” kerm Saulus.

“Toemaar, laat dit aan my oor!” stel Barnabas hom gerus. Daardie selfde aand nog gaan stel Barnabas vir Saulus voor aan die apostels. Hy verduidelik aan hulle wat daar in Damaskus met Saulus gebeur het, en hoedat hy selfs daar in Damaskus openlik gepreek het oor Jesus! Die manne verstaan, en dan neem hulle hom saam met hulle na die byeenkomste van die gelowiges en stel die splinternuwe Saulus aan hulle voor. En skielik loop Saulus nou weer oor van selfvertroue. Nou het hy ‘n oop deur om vir mense te preek, en wát ‘n wonderlike prediker, want nie alleen is hy nou ‘n gelowige nie, maar hy het boonop kennis van die Skrifte wat van onskatbare waarde is. Almal hang aan sy lippe.

Saulus besluit om dit ‘n stappie verder te neem, en hy begin met Griekssprekende Jode, wat nog nie met Jesus kennis gemaak het nie, te gesels. Hy verduidelik en redeneer, maar dan tref die ongeluk. Die kerkleiers kom hiervan te hore, en hulle is woedend. “Ons moet van hom ontslae raak!” tier die hoëpriester. “Die vermetelheid om nog daardie dwaalleer te kom staan en verkondig!” En dan maak hulle planne om hom te vermoor. “Hy móét uit die weg geruim word!”

Vir die tweede keer in ‘n baie kort tydjie moet Saulus vlug vir sy lewe. Sy medegelowiges help hom om tot by Sesarea te kom waarvandaan hy vertrek na sy geboortestad Tarsus.

Dit kos dikwels net een enkele vredemaker om mense met mekaar te versoen, iemand soos Barnabas. Jesus het in Matt. 5 gesê: “Geseënd is die vredemakers…..” Kan dit van jou gesê word dat jy ‘n vredemaker is? Vir Saulus het dit wonderlike deure oopgemaak. Deur ‘n vredemaker te wees kan jy dalk ook wonderlike deure oopmaak.

Here, ek wil U vredemaker wees. Ek wil graag nie alleen mense met mekaar versoen nie, maar ook mense met U versoenin Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 113 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *