DIE WOEDENDE BEER.

Johannes 16:5-15.

In die dieretuin stap die ysbeer op en af agter dik tralies. Hy is bitter ongelukkig, want hy is sy vryheid kwyt. Hy sou baie eerder daar op die ysvlaktes van die Noordpool wou wees waar hy verwoesting kan saai onder die inwoners van die gebied – daar waar hy kan koning kraai. Maar nou is hy vasgevang agter hierdie dik ystergordyn. Anderkant die tralies sien hy mense, en binne in hom kook dit. As hy tog net sy skerp kloue in een van daardie sappige happies kan inslaan, net om weer ‘n slag regte kos te kan eet……

‘n Vrou staan in verwondering en kyk na die wit gedierte. Die tralies is dik en stewig, en hy kan haar nie bykom nie. Tog vul die brute krag van die dierasie haar met vrees en bewing. Sy probeer die skoonheid van die beer op film vaslê, maar die tralies belemmer die uitsig. Dan klim sy oor die veiligheidsreling om ‘n bietjie nader te kan kom. Sy gaan staan langs die hok en mik tussen die tralies deur met haar lens.

Die beer kan sy geluk nie glo nie. ‘n Smullekker stuk mensvleis het haarself so pas vir hom kom opdis. Katvoet kom hy nader om nie hierdie sappige prooi skrik te maak nie, en dan, soos blits skiet sy skerp kloue deur die tralies en gryp die vrou aan die been. Sy gil histeries, en krul van pyn as die beer haar voet deur die tralies trek. ‘n Paar mense waag hulle lewens vir haar as hulle oor die reling spring en haar te hulp snel. Hulle probeer die beer verjaag, maar hy laat hom nie deur ‘n paar simpele mense afskrik nie. Die vrou huil histeries – wat het haar tog besiel om dit so naby te waag? Sy moes mos geweet het dat die dier gevaarlik is. Na ‘n lang gespartel word sy uiteindelik bevry. Liederlike letsels aan haar voet vertel die verhaal van ‘n noue ontkoming met ‘n ysbeer.

Miskien dink jy dat die vrou besimpeld was om so ‘n dwase ding aan te vang. Tog doen ek en jy dikwels ook maar sulke dwase dinge.
In Johannes 16:11 lees ons: “…….want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.” Inderdaad is die duiwel reeds veroordeel, en is hy “agter tralies”. Elders lees ons dat hy soos ‘n brullende leeu is wat vasgeketting is. Nee, hy is beslis nie dood nie, en hy is steeds net so gevaarlik soos altyd. As jy aan die verkeerde kant van die tralies is, vreet hy jou verseker op. As jy egter by die punt in jou lewe gekom het waar jy ‘n oorgawe aan Jesus gedoen het, dan ruk Hy jou deur hierdie “tralies” na veiligheid. Anderkant brul en raas die duiwel steeds, maar die tralies van God se genade keer dat hy jou nie kan verslind nie. God het ook ‘n “Veiligheidsreling” daar geplaas, sodat jy nie per ongeluk te naby aan die hok kom nie, die Veiligheidsreling van die Heilige Gees wat met jou praat en jou oortuig van sonde. As jy egter die Heilige Gees ignoreer en met die sonde heul, dan klim jy oor hierdie Veiligheidsreling, en dan is jy binne bereik van die duiwel se kloue. Hoewel hy jou nie deur die tralies kan trek nie, kan hy jou liederlik seermaak, en dikwels vra dit van ander Christene om hulle eie lewens te waag om jou weer uit die gemors te red.

Jesus het oor die Heilige Gees gesê: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” Luister dus na die inspraak van die Heilige Gees, want Hy getuig alleen van die waarheid. Hou jou doof vir die stem van die duiwel wat jou suggestief nader wink, en jou wil laat verstaan dat die tralies sterk genoeg is. Jy sal mos as Christen kan staande bly as die sonde vir jou wink. Wat kan ‘n ou bietjie dobbel tog skade doen – dis net suiwer plesier. ‘n Ou bietjie skoon pret op die jaarlikse kantoorpartytjie met die seksie doedie – dit kan mos nie skade doen nie……. ‘n Bietjie onskuldige fortuinvertellery of om te hoor wat die “gees van ‘n afgestorwene” sê, is mos net skadelose pret. Of is dit? Die beroemde kunstenaar, Roberto, kan getuig daarvan dat daardie bietjie onskuldige dobbel so byna-byna sy lewe gekos het. Hy was net betyds uit die kloue van die duiwel geruk. Daardie onskuldige pret op die kantoorpartytjie het al gelei tot die vernietiging van vele huwelike. Die pyn wat daarmee gepaard gaan is feitlik onherstelbaar. Die onskuldige pret van fortuinvertellery en geeste oproep, het menige mens al ingesuig in die duister wêreld van die okkulte.

Bly weg van die sonde af – dis baie gevaarliker as wat jy dink. Die duiwel is wel reeds veroordeel, maar hy is nog lank nie dood nie!
Austin Higgs

 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 68 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *