Johannes 14:15-31.

‘N LIEFDESVERHOUDING.
Johannes 14:15-31.
In vandag se Skrifgedeelte is daar een ding wat soos ‘n paal bo water uitstaan: Doen wat Jesus jou vra om te doen! In vers 15 sê Hy: “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer.” ‘n Bietjie verder, in vers 21, sê Hy “Wie My opdragte het en dit uitvoer-dit is hy wat My liefhet” en in vers 23 sê Jesus: “As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem”.
Hoe lief het jy vir Jesus? Liefde is nie net ‘n emosionele gevoel nie – liefde is ‘n praktiese uitlewing daarvan. In die huwelik beteken dit dat jy moet werk aan julle verhouding. Jy doen iets wat jou vrou (of man) gelukkig sal maak. Soms beteken dit sommer baie harde werk en baie maal kom ‘n man maar redelik gehawend anderkant uit as hy die een of ander groot taak vir Vroutjie moes uitvoer. En dikwels is die arme Vroulief poegaai na ‘n aand waar sy Manlief se vriende moes trakteer, alles net vir liefde.
Maar my vraag is steeds: Hoe lief het jy vir Jesus? Op dieselfde wyse moet jy ook jou liefde aan Jesus prakties uitleef. Net soos in die huwelik, is hier twee partye en albei moet hulle kant bring om die huwelik te laat slaag. Jesus het reeds meer as Sy kant gebring, deur jou te red uit die verderf. Ja, en steeds bring Hy elke dag Sy kant deur altyd daar te wees vir jou; te luister na jou; jou te vertroos; jou hand vas te hou; in te tree by die Vader vir jou as jy sondig – Hy bring Sy kant deur en deur. Wat doen jy in hierdie verhouding? Jesus se opdragte is eenvoudig en Hy help jou selfs om hulle uit te voer! ‘n Paar van Sy opdragte is: Jy moet vrugte dra (Johannes 15:16); jy moet jou mede-Christene liefhê (Johannes 15:15); jy moet selfs lief wees vir jou vyande; jy moet die Evangelie versprei (Mattheus 28); daar moet blydskap in jou lewe wees (Filippense 4:4). Jesus se opdragte is nie moeilik nie, maar dit vat van jou deursettingsvermoë om dit te kan deurvoer. Maar glo my – die resultate maak dit deur en deur die moeite werd. Vat nou maar die opdrag van blydskap: ‘n paar mense het vir my geskryf en vertel hoe bedruk hulle is. As jy gaan soek vir die mooi dinge en jouself forseer om te glimlag en bly te wees in die klein dingetjies, dan sneeubal dit. Later sal al die ou suurgesigte om jou begin verhelder en dit doen wondere vir jou eie gemoed. Probeer dit vandag en kyk watter resultate jy kry! Die liefdesopdrag word terselfdertyd dan ook prakties uitgevoer. Om die Evangelie te versprei klink na ‘n verskriklike berg, maar daar is baie maniere om dit te doen. Maar weet jy wat dit aan ‘n mens doen as iemand met wie jy die Evangelie gedeel het, vir jou kom sê: “Ek het Jesus ontmoet!”? Dit is seker die wonderlikste gevoel op aarde, want jy weet dat jy ‘n instrument in die hande van God was om daardie persoon se lewe te red. Jesus beloon jou met ‘n intens-emosionele gevoel van dankbaarheid en lof en jy wil net jubel en almal vertel daarvan.
Daar is twee partye in jou liefdesverhouding met Jesus: Jy en Hy. Hy leef Sy liefde vir jou uit – hoe lyk jóú liefde vir Hóm?

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 99 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *