Potjiekos

‘n Reeks artikels oor kos sal nie volledig wees sonder om oor ons nasionale erfenis, potjiekos, te praat nie. Van die mense waarmee ek gepraat het voor ek hier kom sit het, het my op die vraag “Waar kom Potjie” vandaan geantwoord: van die Voortrekkers. Ek moet erken ek het ook nogal so gedink. Tot my verbasing is dit nie

Die ontstaan van die hutspot of potjie gaan sover terug as 1573. Op 15 Oktober 1573 het die Spanjaarde die Nederlandse stad Leiden beleër. Maar die Nederlanders was nie bekommerd gewees nie want hulle het genoeg kos in die stad gehad. Op 21 Maart 1574 los die Spanjaarde Leiden soos ‘n warm patat. Die mense was verheug.

Maar ewe skielik op die 25ste Mei 1574 beleër die Spanjaarde weer Leiden. Dit is net hier waar die moeilikheid begin. Die mense het nog nie tyd gehad om kos bymekaar te maak nie en niemand kon in of uit die stad gaan nie. Die kos was maar skraps. Gelukkig het die mense begin om gemeenskapsetes te maak. Almal het maar stukkie kos aangedra van wat hulle gehad het. Al hierdie flentertjies en skraapsels is in een pot gegooi en gekook. So het hulle maar elke dag saam geëet,

Daar is verder min bekend oor die hutspot en hoe hy begin het om deur Europa te trek. Elke jaar word die hutspot gemaak op die dag wanneer die beleg van Leiden beëindig is. Die mense het duidelik nie net die hutspot bly maak op die vakansiedag nie. Van Nederland het die hutspot Belgie, Frankryk en Engeland toe gegaan.

Natuurlik op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck so ‘n paar hutspotte aan boord van sy skepe gehad. As mens daaraan dink is die potte net reg gewees om mee te kook in so ‘n wilde ongerepte land. Maar dit is nie al manier wat die potte hier in die suiderpunt van Afrika geland het nie. Die ontdekkingsreisigers het die swart potte by hulle gehad om hulle kos in te maak. Op een of ander manier het hulle seker maar die potte geruil vir gunste en gawes by die plaaslike bevolking.

Die plaaslike bevolking het gou gesien dat die swart ysterpotte baie beter kook en hanteer as die gewonne kleipotte wat hulle gebruik het. En so het die potjie vol pap ook sy plek gekry by die swart bevolking, en met hulle migrasie af na die suidpunt toe het die pot ook saamgekom.

In Kaapstad in die vroeë jare het die pot behoorlik gekook. Eers het die mense net kos daarin gaargemaak. Verder het hulle agtergekom dat hulle die potjie ook as ‘n oond gebruik en stukke vleis daarin gaarmaak, maar die einde was dit niet, want hulle het ook agtergekom dat mens ook brood in die pot kan bak. Maar met al die skepe met hulle vreemde speserye en geure het die potjie ook begin om meer geurig en smaaklik te raak.

Natuurlik was hierdie 3 in een pot ‘n natuurlike keuse toe die Voortrekkers die lang pad moes aandurf noorde toe. Die voordeel van die potjies is dat jy nie vreeslik baie nodig het om hom aan die gang te kry nie. ‘n Klein vuurtjie en ‘n paar stukke hout en siedaar gaan die pot aan die kook. Die ander voordeel is ook dat as mens die potjie stadig kook kan taai vleis lekker sag word. ‘n Ander voordeel ook vir die Voortrekkers is dat die aand as jy klaar geëet het, kan jy die volgende dag net jou potjie optel en aan die wa haak en daar gaan jy.

Hier in die Sewentigerjare het ons moderne wesens die potjie in al sy glorie laat herleef. Mense het begin agterkom dat as jy potjie maak dat daar ekstra paar uur lekker kuier mee gepaard gaan. Baie potjiekoskompetisies is gehou en daar is tot ‘n potjiegilde in Pretoria.

Die potjie se grootte word bepaal deur die hoeveelheid water wat hy kan neem. ‘n no 1 pot neem 2 Quarts water en ‘n no 3 pot 8 Quarts water. 1 Quarts water is gelyk aan twee pinte water, en natuurlik is twee punte is baie naby aan ‘n liter.

Deesdae is omtrent elke mens ‘n potjie kenner. Elkeen het maar sy gunsteling manier en gereg wat hy as sy eie beskou. Miskien moet ons dankie aan die Spanjaarde se vir die beleg van Leiden. As dit nie vir daardie beleg was nie sou ons kultuur definitief armer gewees het.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 560 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *