ARM.

Austin Higgs

Lukas 1:51: “Hy het deur Sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.”

Die destydse manier van oorlogvoering was dat mens met fisiese krag jou teenstander sal oorwin. Dit het dus nie gegaan om oor ‘n afstand met slim tegnieke jou vyand om te dop nie. Daar was wel al boogskutters en die mense het rotse op hulle teenstanders gegooi en sulke goed, maar die naby gevegte was fisiese krag wat op die ou end die deurslag gegee het.

Hierdie deel gaan oor die Here wat met Sy dade aan die volk wil wys dat Hy vir hulle die wêreld verander het en dat Hy dit Self gedoen het, omdat Hy sterk genoeg is om die bose te oorwin.

Dit is dus die krag en mag van die Here wat die wêreld op die end sal red en omswaai om die nuwe Jerusalem te word. Die Here doen dit dus soos ‘n kryger en Hy oorwin die vyand, wat die bose is, met ‘n sterk hand en arm.

Ek wil amper byvoeg, maar ek sien dit nie so sterk in die teks nie, dat die hand dalk net ‘n klein deel sou wegvee, maar dat Hy met Sy arm verder kan reik en dat Hy alles van die tafel afvee en so die bose nie net eenkant toe stoot nie, maar geheel en al oorwin en van die tafel afvee, om nooit weer deel te wees van die volk en die lewe van Sy kinders nie.

Ek stel my net voor hoedat Hy Sy groot en sterk arm swaai en met een groot hou die bose verwoes in die finale oordeel.

Liewe Vader, ek is so dankbaar dat ek aan U kant is, omdat die finale oorwinning by die wederkoms te groot gaan wees vir ‘n mens om te aanskou en te oorleef. Dankie dat U die geveg alleen sal hanteer. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 59 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *