Handelinge 15:1-21

Austin Higgs

Knellende Voorskrifte – Handelinge 15:1-21
Dit was ‘n doodgewone byeenkoms van die gelowiges in Antiogië. Maar daar was tóg ‘n verskil: die paar besoekers uit Judea. Baie gou kom die gemeentelede agter dat hierdie manne ‘n agenda het. Hulle is diep beswaard!
“Ons het gehoor van julle sendingwerk onder die heidene,” sê een van die manne plegtig, “Maar daar is ‘n probleem: as diegene wat uit die heidendom kom nie die gebruik van Moses nakom deur hulle te laat besny nie, kan hulle mos nie gered word nie!”
Hierdie is ‘n baie teer en ongemaklike sakie, want die meeste van hulle is uit die heidendom, en slegs enkeles is ooit besny. Beteken dit dan dat hulle almal verlore is? Wat dan van Jesus se verlossingswerk? Beteken dit dan niks?
Dan staan Paulus op: “Nee broers, julle het dit baie beslis verkeerd. Hoe kan besnydenis jou redding beteken?”
“Ja,” beaam Barnabas, “ons kan nie van heidene Jode maak nie!”
“Wel, ek sê nou vir jou dat die wetboek wat Moses van God gekry het baie duidelik sê dat die man wat nie besny is nie, nie deel van die volk van God kan wees nie. Ons as gelowiges is immers nou die nuwe volk van God!”
Dan breek ‘n heftige stryery uit en verwyte word oor en weer geslinger, totdat daar uiteindelik totale wanordelike chaos heers. Dan staan Barnabas op. Wanneer sy groot basstem deur die vertrek weergalm, bly almal outomaties stil. “Broers, só gaan ons nooit in der ewigheid ‘n antwoord kry nie! Daar is net één uitweg: ons moet hierdie kwessie na die kerkleiers neem om uit te sorteer!”
Hiermee stem almal saam, en weereens is dit Paulus en Barnabas wat afgevaardig word om die saak na die leiers in Jerusalem te neem. Daar word ‘n paar ouderlinge afgevaardig om hulle te vergesel en saam te praat. Die gemeente voorsien alles wat hulle nodig het vir die tog.
Hulle reis neem hulle deur Fenisië en Samaria, en oral langs die pad tref hulle gelowiges aan. So ver as wat hulle gaan, vertel die twee van die wonderlike dinge wat gebeur het tydens hulle sendingreis deur die heidenlande. Die mense hang aan hulle lippe, en hulle is baie opgewonde oor die talle heidene wat tot bekering gekom het. Uiteindelik, na ‘n baie lang staptog kom hulle in die mooi stad Jerusalem aan, waar die kerkleiers alreeds op hulle wag. Hulle word hartlik verwelkom deur die hele gemeente, die apostels en al die ouderlinge. Sommer dadelik moet hulle begin vertel van alles wat hulle deurgemaak het. Oopmond sit almal en luister wanneer Paulus vertel hoedat hulle met klippe “doodgegooi” is, en van die talle wonderlike verhale wat hulleself afgespeel het in die onbereikte lande.
Maar nie almal is so opgewonde nie. Daar sit ‘n paar manne wat voorheen Fariseërs was, en wat met groot kommer luister na Paulus en Barnabas se verhale. Wanneer Paulus asem skep, staan een kêrel op: “Hulle moet besny word!” sê hy met ‘n krom vinger wat dramaties geswaai word.
“En hulle moet die wet van Moses nakom!” beaam sy buurman. Skielik breek chaos los en almal begin gelyk stry oor hierdie netelige saak.
“Broers! Broers!” maak Petrus die spul stil. “Kom ons laat dit aan die leiers oor om hierdie saak uit te klaar.”
En so kom al die apostels en ouderlinge bymekaar om die netelige saak uit te praat en antwoorde te soek. Die bespreking hou aan tot in die vroeë oggendure, sonder dat daar ‘n oplossing kom. Dan staan Petrus op: “Broers, julle weet mos dat God my gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig.” Ja, almal is dééglik bewus daarvan. En dan gaan Petrus voort om te verduidelik dat daar mos nie onderskeid gemaak kan word tussen die Jode en die heidene nie, en dat daardie heidene se harte ook gereinig is deur die geloof. “Nou waarom wil julle dan God se geduld beproef deur ‘n juk op die heidene se nek te plaas wat ons voorouers nie eers kon dra nie?”
Daar sak ‘n skuldige stilte toe oor die manne. Dan sê Petrus saggies: “Ons kan alleen deur die genade van die Here Jesus gered word. Onthou dit!”
Dan staan Jakobus op: “Ek stem saam, ons moet dit nie moeilik maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie.” Hy stel dan voor dat daar vir die heidene ‘n paar voorskrifte gegee moet word, soos dat hulle nie vleis eet wat aan afgode geoffer is nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy. En hulle moet ook nie bloed eet of enige dier wat verwurg is nie. Hierdie is immers basiese voorskrifte wat al baie jare geld.
Dikwels het ons vandag steeds “voorskrifte” wat ons op mense wil afdwing, soos hoe jy moet aantrek wanneer jy kerktoe gaan of watter soort liedere jy tydens ‘n erediens mag sing. Slegs ‘n geordende leraar mag die nagmaal bedien (waar staan dit in die bybel?), en slegs ‘n leraar mag sy hande oplig om die gemeente te seën. Sulke voorskrifte en baie ander soortgelykes plaas ‘n demper op die uitleef van jou geloof.
Here, maak ons asseblief vry van mensgemaakte voorskrifte wat ons Christelike vryheid aan bande lê.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 129 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *