Handelinge 16:25-40

Austin Higgs

Bevryding in die Tronk – Handelinge 16:25-40
Paulus en Silas krul van die pyn as die swaar tronkdeur agter hulle toeslaan. Hulle weet nie mooi hoe om te lê nie, want die houtblokke waarin hulle voete vasgeklem is, beperk hulle bewegings. Daar is maar net één genade: kners op jou tande en probeer uithou. Paulus voel hoedat elke korreltjie sand en elke klippie op die vuil vloer die wonde aan sy rug indring en hom nog verder pynig. Hy hoor hoe sy goeie maat kreun van die ondraaglike pyn. Die koue van die klipvloer dring dwarsdeur sy hele liggaam.
Die stank in die sel is onhoudbaar, en dit vererger hulle haglike situasie. Dit is feitlik pikdonker in die kerker, die enigste bietjie lig is die flou skynsel van die fakkel in die gang wat onder die tronkdeur deursyfer.
“Wat het julle gedoen om hier te beland?” hoor hulle ‘n krakende stem uit die donker. Hulle is dus nie die enigste gevangenes in hierdie donker gat nie. Vaagweg raak hulle bewus van ‘n paar ander manne wat ook hier vasgeketting lê. Kort-kort hoor hulle iemand lelik vloek as ‘n rot oor sy gesig loop. Paulus en Silas het te seer om enigiets te sê. In stilte lê hulle daar en bid dat God hulle genadig sal wees om hulle deur hierdie verskriklike marteling te dra.
Harmansdrupstadig sleep die tyd verby. Laatnag, wanneer die twee manne lê en bibber van die koue en die slaap hulle totaal ontwyk, begin Paulus saggies ‘n lied neurie. Silas val in saam met hom, en kort voor lank sing die twee een van Dawid se mooi Psalms. Nie lank nie, of hulle pyn en ongemak is vergete, as hulle die een loflied na die ander met volle oorgawe sing. As hulle durf asemskep, dan por hulle medegevangenes hulle aan: “Kom, moenie nou ophou nie, sing nóg asseblief! Julle twee sing só mooi.”
Teen middernag weerklink die twee manne se mooi stemme deur die gange van die tronk, en ‘n paar manne probeer selfs saam sing, al ken hulle nie die woorde nie.
En dan gebeur dit: Skielik begin die vloer onder hulle bewe. Dit raak al erger en erger totdat die ganse gebou onder hulle skud terwyl ‘n onaardse rammeling deur die gange eggo. Paulus-hulle hou op sing, en ‘n paar van die gevangenes skreeu benoud van angs. Lig stroom skielik in hulle sel in, en as hulle omkyk, sien hulle hoedat die swaar ysterdeur oopswaai sonder dat daar iemand is wat dit oopmaak.
Paulus voel hoedat die blok wat sy voete pynlik omklem skielik meegee en oopval. Een van die medegevangenes gil as die swaar kettings om sy gewrigte en voete met ‘n harde geklingel op die grond val. Die kettings van die ander gevangenes volg. Die manne is rasend van vrees en hulle kruip beangs in die verste hoekie in. Hulle kan glad nie verstaan wat besig is om te gebeur nie. Dan kalmeer Silas hulle: “Wees net kalm, dit is ons Almagtige God wat ons bevry het. Bly nét waar julle is, moenie weghardloop nie, julle sal niks oorkom nie!”
Verder in die gang af kan Paulus die harde geluid van staal op staal hoor soos die tronkdeure een-vir-een oopval. Dan hoor hy die tronkbewaarder ingehardloop kom: “Nee! Nee!” skree die man benoud as hy al die tronkdeure oop sien. As Paulus by die deur uitloer, is hy net betyds om te sien hoedat die bewaarder sy swaard uitpluk en gereedmaak om daarin te val, want nou is selfmoord sy enigste opsie. As die owerhede uitvind dat hy nalatig was en die gevangenes laat wegkom het, is sy straf baie erger as die dood!
“Wag! Moenie!” skree Paulus nét betyds om hom te keer. “Kyk, ál jou gevangenes is steeds in hulle selle, nie een het ontsnap nie. Hulle is te bang om te ontsnap!”
Die bewaarder gryp ‘n lig en dan storm hy in Paulus en Silas se sel in en val op die grond voor hulle neer: “Wat moet ek doen om gered te word?” kerm hy.
“Glo net in die Here Jesus, en jy sal gered word,” kalmeer Paulus hom. “Gaan roep al jou huismense, dan verduidelik ek jou alles.”
En so bring Paulus en Silas daardie nag die Evangelie na die geharde bewaarder en sy hele gesin en ook sy slawe. Iemand bring vir hulle ‘n skottel water en die twee manne se wonde word gewas en versorg. Daarna word die bewaarder en sy hele huis gedoop.
“Gaan berei gou vir die twee manne ‘n ete voor,” beveel hy sy slawe, en dan neem die bewaarder die twee huistoe om hulle daar te trakteer op ‘n smaaklike maaltyd. Die volgende oggend word die twee manne vrygelaat, maar eers nadat die ringkoppe van die stadsbestuur nederig om verskoning kom vra het. Daarna is hulle na Lidia se huis waar hulle die gelowiges bemoedig het en toe vertrek hulle na hulle volgende bestemming.
“Wees bly in die Here,” skryf Paulus aan die Filippense terwyl hy vir die hóéveelste keer in die tronk sit. Dan is dit nie maar net mooi woorde nie, maar Paulus het dit prakties uitgeleef. En nou vra hy my en jou om daardie selfde blydskap in alle omstandighede prakties uit te leef. Blydskap is ook nie afhanklik van jou omstandighede nie. Dit is iets wat diep in jou is wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus staan. Kom ons leef dit uit!
Here, dankie dat U vir my daardie wonderlike blydskap gegee het. Help my om dit ten volle te ervaar en uit te leef in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 169 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *