Jesaja 57:17-19

Austin Higgs

“Ek roep U aan, want U sal my antwoord…” (Psalm 17:6). Anker jou oortuigings vas aan die Woord van God. Dan sal jy nie soveel lewenskrisisse beleef nie. Wanneer jy moeilike besluite moet neem, bid met volharding en vasberadenheid. En gebruik die Woord as die bron van jou gedagtes.

 FIETSRY SAAM MET MY VADER.

Jesaja 57:17-19 sê vir ons: “Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan. Ek het gesien wat met hom gebeur en Ek sal hom genees. Die van hom wat treur, sal ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee. Ek stel hulle in staat om My weer te loof. Vrede vir die wat ver is, vrede vir die wat naby is, sê die Here. Ek sal hulle genees.”

Nadat ek die eerste keer vir Jesus ontmoet het, het die lewe vir my gevoel soos ‘n fietsrit op ‘n tandemfiets, en Jesus het op die agterste sitplek gesit en Hy het my gehelp trap.

Ek weet nie mooi wanneer dit was dat ons plekke omgeruil het, maar sedert Hy die voorste sitplek ingeneem het, was die lewe nooit weer dieselfde nie. Toe ek in beheer was, het ek die pad geken; dit was vervelig en redelik voorspelbaar … altyd die kortste pad tussen twee punte.

Maar vandat Jesus Christus die stuurstok oorgeneem het, is die hele pad sommer interessant en opwindend. Hy neem ons oor asemrowende bergpaaie, deur rotsagtige plekke, afdraendes teen nekbreek snelhede … al wat ek kon doen was om vas te hou. Selfs wanneer dit gelyk het na skone malligheid, het Hy aangemoedig met ‘n: “Hou aan met trap!”.

Ek het bang en paniekerig geraak en uitgeroep: “Waarheen neem U my?” Hy het gelag en nie geantwoord nie en ek het geleer om Hom te vertrou.

Ek het my vervelige leefstyl vergeet en het gewoond begin raak aan die avontuur van op die agterste sitplek ry, saamtrap maar geen stuurstok in my eie hande nie. Wanneer ek soms begin bangraak, dan het Hy terug geleun en my hand aangeraak. Hy het my geneem na mense met gawes wat ek nodig gehad het… gawes van genesing, aanvaarding, vriendelikheid. Hy het my beveel: “Gee jou gawes weg, dis te veel bagasie, te veel gewig.”

So het ek weggegee aan mense wat ons ontmoet het op die pad en ek het ontdek dat deur weg te gee, ek al hoe meer ontvang het, maar my vrag het nie swaarder geraak nie, die las is lig. Aanvanklik het ek Hom nie vertrou nie en ek was self in beheer van my lewe. Toe ek begin agter ry het, het ek gedink Hy gaan ons verongeluk… stelselmatig het ek gesien dat Hy fietsrygeheime ken. Hy het geweet hoe om deur ‘n skerp draai te beweeg, hoe om te klim oor rotse wat heeltemal te hoog gelyk het vir my en waar om te jaag sodat ons vinniger deur die gevaarlike plekke kon gaan.

Ek het geleer om my mond te hou en net saam te trap, dikwels op die mees ongewone plekke. Ek het begin ontspan en geleer om die natuurskoon rondom my te geniet… en ook die koel wind in my gesig in die permanente kameraadskap van Iemand wat my nooit begewe en verlaat nie, die Heilige Gees. En elke keer wanneer ek seker was dat ek aan die einde was van my eie kragte, glad nie instaat om verder te gaan nie, dan het Hy geglimlag en aangemoedig. “Trap, My kind, Trap!”

Dankie Here, my God, dat U bemoeienis maak met my en my elke dag meer van U leer. Here, maak my minder en U meer, soos Johannes 3:30 my leer. Sonder U is ek tot niks in staat nie, in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 62 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *