Johannes 1:16:

GENADE EN GELOOF.

Austin Higgs

LEES: Johannes 1:16: “Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”
1 Tessalonisense 5:18: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Iemand sê nou een dag dat dankbaarheid die taal van geloof is. God gee alles wat ons ooit ontvang, geestelik en fisies, vir ons uit Sy groot genade en ons ontvang dit in geloof met danksegging:

Genade is God wat sê: “Ek het jou só lief dat Ek My Seun se lewe vir jou gegee het”. Geloof is jy wat sê: “Dankie vir Jesus se offer en dat ek as gevolg daarvan nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe het”.
Genade is God wat sê: “Ek vergewe jou”. Geloof is jy wat sê: “Dankie vir my vergifnis”.
Genade is God wat sê: “Deur Jesus se wonde is jy genees”. Geloof is jy wat sê: “Dankie vir my genesing”.
Genade is God wat sê: “Al jou pogings om regverdig te wees is soos ou, vuil lappe, daarom gee Ek Jesus en Sy regverdigheid vir jou”. Geloof is jy wat sê: “Dankie vir Jesus en vir my regverdigheid deur Hom”.
Genade is God wat sê: “Ek voorsien ryklik in al jou behoeftes, volgens My wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus”. Geloof is jy wat sê: “Dankie dat ek niks kortkom nie.”

Gaan kyk bietjie in die Bybel, en ook in jou lewe, wat die Here alles vir jou gee en dank Hom daarvoor.

Here, ons kan nie genoeg dankie sê vir U genade nie!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 76 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *