Johannes 15:7:

LEER ONS BID – AS JULLE IN MY BLY.

Johannes 15:7: “As julle in My bly, en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry!”

In hierdie teksvers leer die Here Sy dissipels (kerk) een van die kardinale beginsels van geloof, vertroue en gebed: Jy moet in Hom bly, Sy woord in jou en dan kan jy in gebed vra en jy sal kry.

Kyk na die volgorde: Bly in My – jou lewe moet die Here weerspieël. Kyk na foto’s van jou en jou pa en ma, jou oupas en oumas, broers, susters en kinders. Julle het almal sekere trekke wat daarop dui dat julle familie is. So moet jou gesindheid en lewensopvatting ook wees, dit moet trekke van Jesus hê, sodat almal kan sien wie se familie jy nou is.

My woorde moet in jou bly – die Here se woorde is in die Bybel opgeteken. Lees dit, leef dit, dra dit uit. Die wynstok se lote dra immers die vrug van die wynstok, nie waar nie?

Vra dan net wat jy wil – dit is ‘n baie wye stelling en belofte wat die Here Jesus ons hier gee. Daar is geen beperking op wat jy mag vra nie. Kyk weer na die gebed om jou daaglikse brood – kan jy sien dat jy die Here se voorsiening in alles kan vra na aanleiding van die bogenoemde?

Jy sal dit kry! Nie miskien sal jy dit kry nie. Of dalk as ek so bid sal die Here my beter hoor en my laat kry, nie. JY SAL DIT KRY!

Rig dan nou jou lewe volgens hierdie riglyn en volgens die modelgebed wat Jesus ons geleer het, en jy sal ontvang.

Dankie Here dat ek weet U voorsien en hoor wanneer ek roep, omdat ek in U bly en U woorde in my.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 154 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *