Mattheus 6:11

Austin Higgs

“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Efesiërs 3:18). Wanneer jy iemand vergewe, kom jy so naby aan die Here as wat ‘n mens maar kan kom. Jou vergewensgesindheid gee die mense ‘n kykie tot binne-in ons genadige Koning se hart. Wil jy die Here verstaan en nader aan Hom lewe? Vergewe dan vandag iemand. (Max Lucado)

LEER ONS BID – GEE ONS VANDAG.

Mattheus 6:11: “Gee ons vandag ons daaglikse brood…”

In die oorspronklike Griekse teks kan hierdie frase ook vertaal word as: “Gee ons die brood van môre”.

Wanneer jy dus hierdie gedeelte bid, vra jy nie net die Here om aan vandag se behoeftes (brood) te voldoen nie, maar aan elke dag wat nog moet kom s’n.

Verstaan jy wat jy nou net gebid het? “Here, ek het absolute vertroue in U, ek weet dat U elke dag, vandag en al die dae wat volg, vir my sorg. Dat U in elkeen van my behoeftes sal voorsien.”

Nou raak ons partykeer bietjie ongeduldig met die Here, omdat Hy nie dadelik antwoord wanneer ons vra, soos ons dit wil hê nie. Maar in hierdie deel van die gebed en in die deel oor God se wil, het jy dan erken dat jou vertroue net in Hom is en dat jy weet Hy voorsien op Sy tyd (Sy wil), alles wat tot jou voordeel is (Jou daaglikse brood).

Nou waaroor die groot bohaai en jammering dat die Here jou nie hoor nie of jou nie antwoord nie? Raak kalm, raak bewus van Sy soete teenwoordigheid en weet met absolute vertroue dat Hy jou gehoor het en dat die antwoord miskien nie so is soos jy dit beplan nie, maar soos Hy dit beplan, vir jou beswil!

Dankie dat ek met vertroue na U troon kan gaan en weet dat ek ontvang waarvoor ek bid. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 73 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *