Quiche

Quiche is ’n souttert wat bestaan uit ’n dun kors en ’n vulsel van soutige eier-en-roomvla. Die gereg kan ook ander bestanddele bevat om dit ’n spesifieke geur te gee sowel as om dit meer vullend en voedsaam te maak. Daar word vermoed dat die Quiche (Franse term – uitspraak: Kiesj) sy ontstaan in Lorraine, ’n provinsie van Frankryk, gehad het. Oorspronklik was brooddeeg as basis gebruik, maar in die moderne tyd word broskors gebruik. Die kors word dun uitgerol en die vulsel is gewoonlik bietjie oordadig met genoeg eier, room, spek, uie, tamatie, sampioene, vis, vleis, groente, ens. Die mees bekende quiche is dan die Quiche Lorraine, wat slegs eiers, room, spek of ham en uie bevat. ’n Quiche is ’n ideale gereg vir ’n ligte middag- of aandete. Dit word bedien met ’n groenslaai, warm Franse brood of rolletjies en yskoue wit wyn. In miniatuurvorm kan dit suksesvol bedien word as voorgereg by ’n dinee.

Algemene wenke

• ’n Quiche word verkieslik gebak in ’n metaal ringpan (25 – 28 cm) met ’n los bodem. Die metaal is ’n goeie geleier van hitte en sorg dus vir ’n bros kors. ’n Glas tertbord kan soms ’n natterige kors veroorsaak. So ’n kors sou vooraf gebak moet word om beter resultate te verseker.

• Werk altyd liggies en op ’n koel plek met broskors. Rol so vinnig moontlik uit en vul die pan. Die deeg het ’n hoë botter- of margarien inhoud en sal dus gou sag word as dit te lank buite die yskas staan. Gebruik ’n bietjie meel op die deeg en op die werkoppervlak wanneer die deeg uitgerol word.

• Die kors kan vooraf in die pan gesit en in die yskas geplaas word, of gedeeltelik gebak word om voorbereiding te vergemaklik. Wanneer die kors vooraf sonder die vulsel gebak word, moet die regte metode gevolg word (sien metode by Basiese Broskors).

Die vulsel kan ook vooraf berei en in die yskas geplaas word tot gebruik.

Ongeveer 30 – 40 minute voor bediening word die vulsel in die kors geplaas, die vla oorgegiet en die gereg in ’n voorafverhitte oond geplaas (180 C). Bak vir ongeveer 30 minute en toets die middel van die gereg met ’n toetspen of ’n skerppuntmes. As dit skoon uitkom en die vla is gestol, is die gereg gereed om bedien te word.
Die gereg kan vir 10 minute in die oond (oonddeur effe oop) gelaat word sonder dat die kwaliteit benadeel word. Die quiche is dus ’n maklike gereg vir gesinsetes of onthale.

• Die vlabasis word gewoonlik van eiers en room gemaak. Indien die room as te ryk of vetmakend beskou word, kan dit gedeeltelik of totaal met volroommelk of afgeroomde melk vervang word. Ander variasies is ongegeurde jogurt (plus 10ml mielieblom), laevet maaskaas, vetvrye Ricotta-kaas, ens.
Indien daar ’n rede is waarom eiers nie gebruik kan word nie, sou die vlabasis vervang word met stewige kaassous – dit verander egter die karakter van die gereg.

• Die kors van ’n quiche is gewoonlik van broskors. Dit kan vervang word met skilferkors, phyllo, brooddeeg of fyn aartappel, maar weer eens verander dit die tradisionele karakter van die quiche.

• Bedien quiche verkieslik warm. In die somer kan afgekoelde quiche by kamertemperatuur bedien word. Indien nodig, kan dit in die yskas geplaas word om te verpak vir ’n piekniek. Quiche wat opgewarm word om te bedien sal nie weer dieselfde gepofde tekstuur verkry nie.
Korse vir quiche

Basiese broskors

1 eiergeel
30ml yswater
375ml (240g) koekmeelblom
1ml sout
125g koue botter of margarien (in blokkies gesny)
10ml wit asyn of suurlemoensap

Metode

Klits eiergeel, yswater en asyn of suurlemoensap liggies saam.
Voedselverwerker: Gebruik staallem om die botter of margarien, meel en sout te meng tot krummels (10 sek.). Voeg die eier- en watermengsel by en pols tot die mengsel ’n deegbal vorm. Pasop vir te lank – dit sal ’n taai deeg veroorsaak.
Handmetode: Vryf die botter of margarien liggies met die vingerpunte in die meel en sout totdat dit lyk soos broodkrummels. Sprinkel die eier-en-watermengsel oor en meng met ’n slaplemmes tot die deeg ’n bal vorm.
Plaas die deegbal in ’n plastieksakkie en laat in die yskas vir minstens 30 minute. (In koue weer kan die deeg dadelik uitgerol word, maar in warm weer moet dit verkieslik in die yskas geplaas word voor die uitrolproses).
Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak tot dit groter is as die pan. Lig die uitgerolde deeg met die rolstok op en plaas bo-oor die pan. Druk liggies met die hand sodat die deeg in die pan insak. Druk dan die deeg in die hoeke van die pan met die vinger of met ’n bolletjie deeg wat in die meel gerol is. Wees versigtig om nie die deeg te rek nie. Rol nou die rolstok oor die rand van die pan en sny so die oortollige deeg af.
Prik die basis met ’n vurk. Die kors kan op hierdie stadium in die vrieskas geplaas word vir ongeveer 10 minute of tot later benodig. Dit kan direk uit die vrieskas, met die vulsel gevul, in ’n voorafverhitte oond geplaas word om te bak.
Om die kors te bak: Plaas die kors sonder vulsel in ’n voorafverhitte oond (200 – 220 C) vir 15 minute. Plaas so na moontlik aan die element van die oond, met ander woorde, op die laagste rak en bak tot effe goudkleurig. Dit lewer ’n bros kors.
Sommige resepte beveel aan dat die kors “blind” gebak word. Plaas ’n velletjie bakpapier bo-op die rou kors en vul die kors met droë boontjies. Bak vir 8 minute, verwyder papier en boontjies en bak vir ’n verdere 5 minute. Vul met vulsel en voltooi bakproses. Indien die kors vooraf heeltemal gaar gemaak word, moet dit vir nog 15 minute gebak word nadat die papier en boontjies verwyder is.
Volkoringkors

250g volkoringmeel
of
125g hawermout en 125g volkoringmeel
2ml sout
100g botter of margarien, gerasper
koue water om deeg mee aan te maak

Metode

Meng die meel en die sout.
Vryf die botter of margarien liggies in die meel in met die vingerpunte.
Meng met koue water tot ’n stywe deeg vorm.
Druk met die hand vas in ’n quiche-pan.
Aangesien die kors heelwat minder smeer bevat, kan die vulsel direk op die ongebakte kors gegooi en dan gebak word.
Kaas-en-ryskors

500ml gaar rys
1 klein ui (fyngekap)
60g cheddar (gerasper)
30ml gekapte pietersielie
30ml gesmelte botter
2 eiers (liggies geklits)

Metode
Meng bestanddele saam en druk vas in tertbord of quiche-pan.
Plaas in yskas tot gebruik.
Vul met vulsel van keuse en bak tot vulsel goudbruin en gestol is.

Krummelkors

3 knoffelhuisies (gekap)
30ml vars pietersielie
50ml gesmelte botter
500ml vars bruin- of volkoringbroodkrummels

Metode

Braai knoffel en pietersielie in 10ml van die botter.
Voeg res van botter en broodkrummels by en meng goed.
Druk vas in tertbord of quiche-pan en bak by 160 C vir 5 -7 minute.
Quiche vulsels

Hier volg ’n verskeidenheid van quiche-vulsels om verskillende smake en voorkeure te bevredig.’n Quiche word gewoonlik op dieselfde metode gemaak, maar deur verskillende vulsels te gebruik, kan die gereg interessant gehou word. Verder kan vulsels ook “ontwerp” word deur bestanddele te gebruik wat in die huis beskikbaar is.

Tradisioneel word room gebruik as basis saam met die eiers. Indien room nie beskikbaar is nie, of dit as te ryk beskou word, kan gewone melk gebruik word. Ongegeurde jogurt moet met 10ml mielieblom (maizena) gemeng word om te verhoed dat dit skif gedurende die bakproses. Verder kan ’n kombinasie van melk en afgeroomde maaskaas, of ’n kombinasie van enige van die bogenoemde ook gebruik word.

Let op: Die grootte van die pan bepaal die hoeveelheid vulsel wat gebruik word, bv.:
– Vir ‘n 23 – 25 cm pan gebruik 3 ekstra-groot eiers saam met 250ml room (of plaasvervanger).
– Vir ‘n 26 – 28 cm pan gebruik 3 of 4 ekstra-groot eiers saam met 375ml room (of plaasvervanger).
Quiche

250g maer ontbytspek (in blokkies gesny)
of
250g ham (in blokkies gesny)
1 groot ui
15ml botter of margarien
3 ekstra-groot eiers
250 – 375ml room (of plaasvervanger)
2ml sout en varsgemaalde swartpeper
2ml neutmuskaat
Metode

Smelt die botter in ’n pan en braai die uie en die spek of ham effe bruin. Dreineer, indien nodig en versprei egalig oor die oppervlak van die kors.
Klits die eiers en die room saam en geur met sout en varsgemaalde swartpeper en neutmuskaat.
Gooi die eiermengsel driekwart vol in die deegkors. Moet nie die kors te vol gooi nie, aangesien die vulsel uitsit wanneer dit gaar word.
Bak in ’n warm oond (180 – 200 C) vir 15 – 20 minute. Die eiermengsel moet effe gestol wees. Indien die kors dit toelaat en daar is rou eiermengsel oor, gooi dit oor die warm vulsel en bak verder vir 15 – 20 minute. Die oppervlak van die quiche moet gepof en goudbruin gebak wees.
Om te verseker dat die vulsel gaar is: Druk ’n toetspen of ’n skerppuntmes in die middel van die quiche – as dit skoon uitkom, is die quiche gaar.
Bedien dadelik of laat vir maksimum 10 minute in, die oonddeur effens oop.
Indien verkies, strooi 60g cheddar of Gruyé-kaas bo-oor die kors voordat die vulsel oorgegooi en dit gebak word.
Basiese groente-quiche

’n Voorafbereide, gebakte kors

500ml voorbereide groente (gekap, gebraai of blansjeer)
1 gekapte, gebraaide ui (opsioneel)
100g gerasperde kaas
3 eiers
250 – 375ml room of melk
sout en varsgemaalde swartpeper
Ekstras: 100 – 150g spek, ham, hoender en vis

Metode

Plaas voorbereide groente in gaar kors.
Strooi ekstras bo-oor.
Strooi 2/3 van gerasperde kaas bo-oor.
Klits melk of room met eiers en geurmiddels. Gooi bo-oor bestanddele in kors.
Sprinkel orige kaas bo-oor en bak by 180 C vir ongeveer 30 minute. Bedien dadelik of laat vir ’n maksimum van 10 minute in afgeskakelde oond met deur effe oop.
Broccoli-en-spek-quiche

20ml sonneblomolie
1 medium ui, gekap
150g rugspek, verwyder velletjie en sny
500ml broccoli-blommetjies (of geblansjeerde spinasie vir Spinasie-quiche)
100ml cheddar-kaas
3 eiers
250ml melk of room (of eie keuse)
sout en varsgemaalde swartpeper
’n voorbereide gebakte kors

Metode

Breek broccoli in happiegrootte blommetjies.
Plaas in ’n bietjie kokende water en laat kook vir 3 – 4 minute. Die broccoli moet nog bros wees en nie te lank kook nie. Dreineer en hou eenkant.
Braai die spek in die olie tot bros.
Voeg die gekapte ui by en roerbraai tot sag en deurskynend.
Versprei ui-en-spekmengsel in kors.
Sprinkel 75g kaas oor die spek-en-uiemengsel en pak die broccoli bo-op.
Klits die eier en melk saam met die geurmiddels en gooi oor die groente.
Strooi die orige kaas oor en bak vir 25 – 30 minute in ’n voorafverhitte oond (180 C).
Vir ekstra geur kan 5ml voorbereide mosterd by die melk geklits word. Versier met gekapte rooi soetrissie indien so verkies.
Vars tamatie-quiche

1kg ferm, ryp tamaties
150g Montali- of Tussers kaas, gerasper
50g sagte botter of margarien
100ml room
2 eiers, geklits
sout en varsgemaalde swartpeper
voorbereide, gebakte kors

Metode

Verwyder skil en pitte van tamaties. Kap die vlesige gedeelte grof en plaas in ’n vergiettes om te dreineer.
Sprinkel 50g kaas bo-oor die kors.
Meng die orige kaas, botter en room en klits die eiers by. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Versprei die gekapte tamatie egalig bo-oor die kaas in die kors.
Bedek met die kaas-en-eiermengsel.
Bak in ’n warm oond (200 C) vir ongeveer 35 – 45 minute tot dit opgepof en goudbruin is.
Indien die kors te bruin bak, bedek die gereg met foelie.
Laat die gereg staan vir 15 minute voor bediening.
Bedien warm met groenslaai en vars brood.
Seekos-quiche

15ml sonneblomolie
1 ui, gesny
100g gekookte aartappel, blokkies gesny
50g rooi soetrissie, blokkies gesny
50g groen soetrissie, blokkies gesny
500g gaar gerookte skelvis, gevlok
3 eiers
150ml room
15ml parmesaankaas
voorbereide, gebakte kors

Metode

Braai die gesnyde ui in die olie tot goudbruin.
Voeg die soetrissies en aartappelblokkies by en roerbraai tot die soetrissies sag is.
Meng die gevlokte skelvis liggies met hierdie mengsel en versprei dit oor die oppervlakte van die kors.
Klits die eiers en room en gooi oor die vulsel in die kors.
Sprinkel parmesaankaas bo-oor en bak by 180 C vir ongeveer 30 minute.
Bedien verkieslik warm, maar in somermaande kan bediening by kamertemperatuur heerlik wees saam met vars groenslaai.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 10,121 times, 1 visits today)
Advertisements

2 thoughts on “Quiche”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *