Radio Dra

Op die grens was patrollies die oë en ore van die weermag gewees. As die patrollie reg gedoen word en nie ontaard nie kan mens waardevolle inligting kry oor die vyand en hulle bewegings. Spore word dalk opgemerk, so nou en dan loop jy ook iemand raak wat nie daar moet wees nie. Maar dit het min gebeur. Dan waar jy ook al patrollies loop is die vyand gewoonlik nie so bedrywig nie.

Somtyds gebeur dit dat jy op vyandelike patrollies afkom en dan is daar natuurlik onmiddellike gevegte tussen die twee patrollies. Die voet patrollies word fyn beplan. Die roete wat geloop gaan word, hoe lank en hoe vêr geloop moet word, word beplan. Maar met enige beplanning is dit dat alles mooi lyk op papier, maar wanneer dit op die uitvoerings punt kom word alles nie so mooi uitgevoer nie.

Daar is verskeie redes daarvoor. Die troepe is nie so fiks genoeg om die aantal kilo’s in die bestaande tyd af te loop nie. Die kit wat jy saamdra is miskien net te swaar. Of dit reën of dit is te warm.
Baie keer kan dit meer as een van die faktore wees wat saamwerk om ʼn patrollie nie suksesvol te laat afloop nie.

Patrollies is ʼn daaglikse gebeurtenis en een van die stukke toerusting wat mens moet saamneem is ʼn radio. Op baie van die patrollies gaan daar ʼn medic ook saam of dan ʼn noodhulp tas. Radio’s is ʼn lewensmiddel wanner jy in die veld is, maar dit is ook ʼn bron van vermaak. Sodra mens op die grens kom is die eerste ding wat jy uitvind wat al die Foxies (golflengtes) is. Jy kry dan al die Radiostasies se golflengtes. Dan kom daar natuurlik ook ʼn foxies of twee uit wat jy nie veronderstel is om te hê nie.

Daar was een spesifieke foxie gewees van ʼn plek in Walvisbaai. Jy praat met die operateur daar en hulle sit jou dan deur na enige foon in Suid Afrika. Jy praat dan oor die radio met jou geliefde. Maar dit is gevaarlik gewees, want as hulle jou gevang het, sou hulle jou in die tronk gegooi het en die sleutel weggegooi het.

Op ʼn stadium het ek ook ʼn foxie gehad van die plaaslike poskantoor. Jy skakel op die foxie in en dan kan jy luister na die gesprekke wat deur die poskantoor gegaan het. Daardie een het ek net gebruik
om te hoor as my vrou my skelm gebel het. Sodra ek haar stem gehoor het, het ek dan na die foon gegaan en gewag dat haar oproep deurgesit word.

Omdat ek so in die radios in was moes ek saam uitgaan om die radio te dra en natuurlik boodskappe te stuur. En as die moeilikheid ons inhaal kan ek dan om hulp roep. Baie mense besef nie die belangrikheid van ʼn Radio in enige oorlogs situasie nie.

Die probleem met die radio kom daarin om hom te dra. Hy weeg maar net ʼn paar kilos, maar dit is ʼn dooie gewig. Die radio word op ʼn dra raam gemonteer en dan gooi jy die raam oor jou rug. Die raam is so in die vorm van ʼn mens se rug. Na ʼn paar kilo’s op ʼn warm dag is dit nie meer ʼn plesier om die radio te dra nie. Die raam skaaf en skuur jou waar jy nie geskaaf en geskuur wil wees nie. Jy loop naderhand krom om net die gewig van die radio te probeer eweredig te versprei. Maar jy is nie altyd suksesvol nie.

Eendag weer op patrollie dra ek die radio en dit is warm. Die sweet tap my naderhand af. Hier moet ek ook bysê dat ek ook al die ander kit moet dra wat die ander soldate ook dra. Hulle draf omtrent die
patrollie want hulle het nie die ekstra gewig wat ek moet dra nie.

Nou die manne sal jou altyd help waar hulle kan, maar om ʼn swaar radio te dra is nie iets waarmee hulle jou sal help nie. So in die stap eendag vorm daar ʼn goeie plan in my kop. Met die eerste rus wat ons kry sit ek die oorfone op die radio. Ek “tune” die radio na een van die foxies (Golflengtes) van ʼn radio stasie. Toe die patrollie opstaan sit ek een van die oorfone op een van my ore, want ek wil darem hoor wat om my aangaan. So loop en luister ek heerlik na musiek. So begin ek neurie en fluit.

ʼn Wonderlike ding gebeur want noudat ek op die musiek konsentreer kom ek nie agter dat ek moeg en seer is nie. Die manne in die patrollie vra my hoekom het ek die oorfone op. Ek haal dit van my kop af en sit dit op sy kop. Hy hoor al die lekker musiek. Net daar vra hy my of hy die radio so ruk kan dra. Ek
was nie ongewillig gewees nie. Om konflik tussen die troepe te voorkom het ek naderhand ʼn skedule opgestel om te se wie dra wanneer die radio.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 219 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *