Saulus se Woede – Handelinge 2 en 3:

Austin Higgs

Saulus se Woede – Handelinge 2 en 3:
Saul is ‘n baie bekommerde jong man. Hy is 23 jaar oud, in die fleur van sy lewe, en hy voel asof hy die hele wêreld kan aanvat, veral nou dat hy sy studies by Gamaliël afgehandel het. Nou kan hy die slimste man aanvat oor énige aspek van die wet. Die Tora ken hy uit sy kop, en niemand sal hom vasvra nie.

Met groot kommer het hy gesien hoedat die sogenaamde Profeet Jesus opgang maak en duisende mense trek wat Hom daagliks volg. Maar daaraan het ook ‘n einde gekom toe Hy die dag tereggestel is. Hy was vas oortuig dat dit die einde van die nagmerrie was, maar skaars drie dae later tref ‘n skokgolf die kring van Fariseërs. ‘n Onverklaarbare ding het die Sondagoggend gebeur na Jesus se teregstelling. Die wagte wat die graf bewaak het, het beweer dat twee engele vroeg daardie oggend gekom het en die graf oopgemaak het. ‘n Paar van hulle het nét daar bewusteloos neergeval van skok. Die res het gevlug so vinnig hulle kon. Hierdie manne was doodsbleek toe hulle die gebeure kom rapporteer. Die owerhede het die soldate ‘n aansienlike som geld gegee om hierdie dinge tog net stil te hou. Eintlik moes hulle eerder die doodstraf gekry het vir hulle nalatigheid! Gerugte doen nou die rondte dat Hy uit die dood opgestaan het.

Aanvanklik het die handjievol dissipels van Jesus wat oorgebly het, weggekruip uit vrees vir die owerhede. Maar toe gebeur nóg ‘n onverklaarbare ding. Op ‘n sekere Sondag, veertig dae na Jesus se teregstelling, word Saul geruk deur die allerverskriklikste geluid. Hy was nog diep in bepeinsing, besig met sy oggendgebed toe die geluid Jerusalem tref. Dit het geklink soos ‘n geweldige stormwind, maar toe hy gaan kyk, moet hy tot sy ontsteltenis sien dat daar nie ‘n luggie trek nie. Oral het hy mense sien hardloop in ‘n sekere rigting. Saul het ook maar agter die geluid aangeloop tot waar hy die reuse skare mense om ‘n huis sien saamdrom het. Hy was nuuskierig om te sien wat daar aangaan.

Wat hy daar gesien het, het sy nekhare laat regop staan! ‘n Sekere Simon met die bynaam Petrus het uit die huis gekom en met die skare, wat teen hierdie tyd al maklik 5000 kon tel, begin praat. Hy het vir die mense die allerverskriklikste leuens vertel, dat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het boonop beweer dat hierdie geluid die werk van die Heilige Gees is en dat God Hom op die mense uitgestort het. En die ergste van alles is dat Simon hulle vertel dat alles voorspel was deur die profete!

Woedend het Saul omgedraai. Hy het genoeg gehoor van hierdie snert!

‘n Paar dae later is hy saam met ‘n klompie Fariseërs. Die manne was hewig ontsteld, want met daardie charismatiese toespraak van Simon het hy nie minder nie as 3000 volgelinge verwerf vir hierdie nuwe sekte van hom. Die manne is dit eens dat hierdie ding sommer dadelik in die kiem gesmoor moet word, anders kan hier gróót probleme kom. “Toemaar, die hoëpriester beplan om hom voor die hof te daag,” deel een van die manne hulle mee.

Hulle was nog besig om oor Simon en sy toespraak te gesels, toe ‘n kêrel uitasem ingehardloop kom. “Julle sal my nou nie glo nie, maar ek het so pas die ongelooflikste ding aanskou!”
“Toe, vertel,” por die manne hom aan terwyl hy nog na sy asem hyg.
“Julle het sekerlik al daardie verlamde man voor die tempel sien sit? Wel, hy loop!”
“Aag, dis tog onmoontlik! Hy sit elke dag al daar vandat ek my verstand het! Wat het gebeur?”

En dan vertel die man dat daardie Simon-kêrel, die een wat hulle Petrus noem, bloot die man aan sy hand gegryp het, en toe spring die man op, blakend gesond. Hy het soos ‘n klein seuntjie gehardloop en gebokspring asof hy nooit enigiets makeer het nie. “Ek het dit met my eie twee oë gesien! En nou staan Simon in die pilaargang van Salomo en preek vir ‘n reuse skare mense. En almal hang aan sy lippe, want almal het gesien wat gebeur,” sluit hy sy storie af.

“Hierdie ding moet nou dádelik stop!” Die manne is héwig ontsteld. En Saul kry eintlik ‘n pyn op sy maag van bekommernis. Hoe gaan hulle hierdie vloedgolf óóit gestop kry?

Daardie selfde dag nog is Simon Petrus en sy regterhand Johannes voor die Joodse Raad gesleep. Saul moes egter later verneem dat hierdie twee eenvoudige vissermanne (Ja, hulle is maar net vissermanne!) vir die slim manne van die Raad ore aangesit het. In plaas daarvan dat hulle in die tronk gesmyt is, het hulle skotvry daarvan afgekom! Hulle is nie eers ‘n bietjie geslaan nie, want die ou ringkoppe was glo bang oor wat die mense sou sê. Saul is woedend, vir Simon, vir Johannes, vir hierdie nuwe sekte, en sommer vir die Joodse Raad ook!

Soos Saul, is daar baie gelowiges wat vandag met ‘n opgekropte woede in hulle rondloop, vir mense, die kerk, die dominee/pastoor en selfs vir God. Is jy dalk een van hulle? Maak dan asseblief vrede voordat dit te laat is!

Here, dankie dat ek uit Paulus se lewe kan leer. Help my om vrede te maak.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 123 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *