Openbaring 12:10

Austin Higgs

“Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan U Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys” (Psalm 115:1). Ek is seker baie van ons word ons lewe lank getroos met ‘n fopspeen. Maar ons sien dit nie so nie, want ons troos is in die bank. Of dit staan in die motorhuis geparkeer. Of ons woon daarin. Jesus wil hê ons moet vir alles van Hom afhanklik wees, sodat ons geloof kan groei. (Max Lucado)

BLOED.

Openbaring 12:10: “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is Sy mag en koningskap hier, en die gesag van Sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.”
EN
Openbaring 12:11: “Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

Hierdie deel van die liggaam is baie belangrik. Dis so belangrik dat die mense van die Bybel geglo het die lewe is gesetel in die bloed.

Maar kom ons kyk gou waar dit oral ‘n rol speel: eerstens was dit van vroeg af (Abraham) deel van die eenword met die volk van God. Besnydenis het die bloed reeds laat vloei. Dan sien ons dit reg deur die Bybel dat die sondeskuldoffers wat gebring was alles gepaard gegaan het met die vloei van bloed. Die belangrike gebeure in Egipte waar hulle ‘n lam moes slag en sy bloed aan die deurkosyne smeer om die eersgeborene se lewe te red, en dan laastens hoedat die volmaakte offer die bloed word wat ons finaal red van die ewige dood en verderf.

Hierdie Skrifdeel praat van ONS oorwinning oor die een wat alles kom verwoes het en dat ons dit reg gekry het deur die bloed van die Lam.

Ek dink ook aan die geweldige werk wat die bloed in ons liggame doen. Nou die dag kry ek bietjie min bloed in my kop en wou ek net omval, want daar is nie genoeg suurstof nie en toe raak ek sommer deurmekaar.

Netso drink ek pilletjies en as hierdie pilletjie sy werk wil doen moet die bloed dit na die plek toe dra waar dit nodig is. Ag, ek kan dit seker daar inspuit, maar as ek nou net ‘n pilletjie wil drink dan is daar nie ‘n ander metode nie.

Wat nog van die bloed wat moet help om te veg as daar iets op jou vel gebeur. Vinnig begin die wit bloedliggaampies veg om al die kieme dood te kry. Gou help die bloedplaatjies om die bloed te laat stol en die wond toe te maak en die selle kos te gee dat dit kan bind en groei en siedaar ‘n heel nuwe plekkie om te wys hoe die duiwel die kerk aangeval het en die Here wat die bloed stuur – dis nou vir jou en my om vrede te bring, om kos aan te dra, om die lelike goed uit te werk en om lewe te gee.

Vader van genade, gee dat ek deel mag wees van die genade wat U oor ander uitstort, in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 127 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *