Frittatas

Frittata is ’n Italiaanse “oop omelet” wat as laat ontbyt, ligte middag- of aandete bedien kan word. Die basiese bestanddeel van ’n frittata is geklitste eier. ’n Verskeidenheid van vulsels soos koue vleis, vis, hoender of groente kan vir frittatas gebruik word. Die omelet kan omgekeer en aan albei kante in die pan bruingebraai word, of die bokant kan onder die oond se roosterelement verbruin word.

Garnering:

Gerasperde kaas, parmesan-kaas, gekapte kruie of pietersielie, gekapte groen of rooi soetrissie, olywe, geroosterde sonneblom- of sesamsaad, geroosterde gegeurde broodkrummels, ens.

Bediening:

Ontbyt: Bedien met roosterbrood en gebraaide tamatie.
Middagete: Bedien met vars groenslaai en Franse brood of rolletjies.
Aandete: Bedien soos vir middagete.

Ham- sampioene-en-uie-frittata

30ml olyf- of sonneblomolie
3 medium uie (dun gesny)
125g knopiesampioene (gesny)
2ml gemengde kruie
400g ham (blokkies gesny)
6 ekstra-groot eiers
50ml melk of room
40g botter
sout en varsgemaalde swartpeper

Metode

Verhit olie in ’n groot swaarboompan.
Braai uie oor lae hitte tot goudbruin.
Voeg sampioene en geurmiddels by.
Braai vir 4 – 5 minute tot vog van sampioene verdamp.
Strooi hamblokkies bo-oor en plaas eenkant om af te koel.
Klits eiers liggies en melk of room met ’n vurk en voeg die uiemengsel by. Roer goed.
Smelt die botter in ‘n 30 cm pan. Wanneer botter gesmelt is, gooi die eiermengsel in die pan en draai die stoofplaat op matige hitte.
Skakel die oond se roosterelement aan.
Wanneer die eier onder in die pan stol, gebruik ’n spaan om die eier na die middel van die pan te stoot sodat die rou eier na die kante kan vloei. Wanneer die eier amper gestol is, plaas die pan onder die oondrooster en rooster tot ligbruin en gaar.
Laat gly die frittata uit op ’n opdienbord en garneer met gekapte kruie. Sny in skywe en bedien.
Die frittata kan ook koud bedien word.
Frittata met vis en garnale

100g vars stokvis of koningklip
of
100g gerookte skelvis
of
100g tuna
50g Mozzarellakaas
6 ekstra-groot eiers
30ml vars pietersielie (gekap)
1 huisie knoffel (fyngemaak)
1 ui
225g murgpampoen (gesny)
115g baba-aartappeltjies (gewas, gekook en middeldeur gesny)
115g gevriesde ertjies (ontdooi)
115g garnale (gekook en geskil)

Metode

Posjeer die vis, dreineer en breek in happiegrootte stukkies.
Klits die eier en voeg die kaas, pietersielie en geurmiddels by.
Verhit die olie in ’n groot, vlak pan. Voeg die knoffel, uie, murgpampoen en aartappels by. Roerbraai vir 2 – 3 minute. Voeg die ertjies, vis en garnale by. Gooi die eiermengsel bo-oor die bestanddele in die pan. Skakel die oond se roosterelement aan.
Terwyl die eiers stadig gaar word, gebruik ’n spaan om die mengsel na die middel te stoot sodat die rou eier na die kante van die pan beweeg.
As die mengsel effe gestol is, plaas onder die oondrooster vir 2 – 3 minute of tot ligbruin.
Garneer met pietersielie, laat gly uit op ’n opdienbord en sny in skywe om te bedien.
Groente-frittata

30ml botter
15ml olyf-of sonneblomolie
1 klein ui (geskil en gekap)
1 huisie knoffel (fyngemaak)
250g sampioene (dun gesny)
250ml gekapte gaar spinasie of murgpampoen of broccoli
4 ekstra-groot eiers (geklits)
60g (180ml) gerasperde parmesaankaas
5ml droë gemengde kruie
sout en varsgemaalde swartpeper

Metode

Verhit die botter en olie in ’n groot, plat pan. Braai die knoffel en uie tot sag en ligbruin. Voeg die sampioene by en roerbraai vir 2 – 3 minute. Voeg spinasie (murgpampoen of broccoli) by en roerbraai vir nog 2 – 3 minute.
Skakel die oond se roosterelement aan. Meng die eier, kaas, kruie, sout en peper en gooi oor die groente in die pan. Verminder hitte en laat eier stadig stol. Indien nodig, gebruik spaan om eier na die middel van die pan te stoot sodat rou eier na die kante kan vloei om te stol. Braai totdat eier amper gestol is.
Plaas onder the oondrooster tot ligbruin.
Laat gly frittata uit op ’n opdienbord. Sny in skywe en bedien.
Hoender-frittata

30ml olyfolie of botter
125g swoerdlose rugspek
1 middelslag ui (gekap)
125g knopiesampioene (skyfies gesny)
5 ekstra-groot eiers
250g gaar hoender (gekap)
30ml vars pietersielie
sout en varsgemaalde swartpeper

Metode

Verhit olie of botter in braaipan. Voeg die spek, uie en sampioene by en braai totdat die ui effens bruin en die sampioene se vog verdamp het. Laat effe afkoel.
Klits die eiers en voeg dit saam met die res van die bestanddele by die gebraaide uiemengsel.
Skakel die oond se roosterelement aan.
Laat die eiermengsel in die pan oor medium hitte gaar word, terwyl die eier wat reeds gestol het, met ’n spaan na die middel van die pan beweeg word. Laat die rou eiermengsel na die kante van die pan vloei en laat die pan op die plaat totdat al die eier effe gestol het.
Plaas die pan onder die oond se roosterelement totdat die eier ligbruin en goed gestol is, maar steeds sag aan die binnekant is.
Sny die omelet in wiggies en bedien saam met franse brood en groenslaai.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 1,006 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *