Nehemia 6:15-7:3

AAustin Higgs

Die Muur is Voltooi – Nehemia 6:15-7:3

Met groot afwagting en opgewondenheid sien Nehemia hoedat die bouwerk vorder. Opgewonde, want die bouwerk vorder baie vinniger as wat hy óóit sou kon droom, en vinniger as wat énigiemand ooit verwag het. Hy tel die dae af: twee en vyftig dae. Dis minder as twee maande! (Hoe lank bou hulle nou al aan die Medupi Kragsentrale?)

Die finale afrondingswerk word gedoen. Die massiewe deure in die stadspoorte word gehang.
En dan is Jerusalem weer haar óú self. Die stad se waardigheid is herstel, en so ook die veiligheid. Nou kan almal weer rustig slaap!

Sanballat en sy trawante is verslae. Hulle het nie gedink dat Nehemia eers ‘n enkele paneel in die muur sou kon voltooi nie. En nou? Hoe is dit moontlik? Die wind is skoon uit hulle seile. Sulke werk kan alleen geskied as dit van God kom!

Maar Sanballat en Tobia se velle is dikker as dié van ‘n stokou renosterbul. Hulle sal nie gaan lê nie! Deur die jare het Tobija bande opgebou met verskeie vooraanstaande Judese burgers. En nou maak hy gebruik van hulle. Natúúrlik is dit tot hulle eie voordeel ook, want hulle kry iets hieruit. Boonop is daar ook familiebande, want daar was ‘n ondertrouery tussen Jode en Ammoniete.

Daar ontstaan ‘n briefwisseling tussen Tobija en hierdie manne, en daar word beplan en bedink en bepeins hoe om iets te red uit hierdie saak.

‘n Paar van die manne het met Nehemia gaan gesels en vir hom vertel watter voortreflike man hierdie Tobija nou éintlik is. Hy het dan só baie goeie hoedanighede. Hy is nou wel ‘n Ammoniet, maar as daar darem nou één goeie Ammoniet in die wêreld is, dan is dit Tobija. Hulle het álles in hulle vermoë gedoen om versoening te probeer bewerkstellig tussen Tobija en Nehemia. Maar Nehemia wil nie hieraan byt nie.

En dan word elke woord van Nehemia wat hierdie manne hoor in ‘n briefwisseling aan Tobija gerapporteer. Hy word dééglik ingelig oor die situasie. Tobija het op sy beurt weer briewe aan Nehemia gestuur om hom te probeer bangpraat. Maar Nehemia steur hom nie aan sulke bogpraatjies nie, en dit rol soos water van ‘n eend se rug af.

Wanneer alles finaal voltooi is, moet Nehemia verantwoordelike mense aanstel om nie alleen na die veiligheid van die stad om te sien nie, maar om toe te sien dat die stad na behore bestuur word en dat dit ‘n stad word waarin mense graag sou wou woon. Die belangrikste is die veiligheidsituasie, en die poortwagte word aangestel. Daarna stel Nehemia sangers en Leviete aan. Dit is eintlik ‘n raaisel, want Leviete doen mos diens by die tempel. Waarom sou hulle by die stadspoorte diens doen? Persoonlik dink ek dat dit was sodat elkeen wat die stad binnekom verras word met vrolike musiek, en dat hulle terselfdertyd sal besef dat God in beheer van Jerusalem is.

Dan stel Nehemia twee persone aan wat die bevel sou voer in Jerusalem, Ganani en Gananja. Ganani was waarskynlik die man wat oorspronklik vir Nehemia kom vertel het van die tragiese toestand van die stad. Hy is immers Nehemia se ampsgenoot. Van Gananja vertel Nehemia dat hy ‘n betroubare man is, maar nog belangriker, dat hy eerbied vir God het, meer as enigiemand anders in die stad. Wat ‘n mooi getuienis!

Maar Nehemia het steeds met ‘n groot probleem gesit. Sanballat en Tobija! Hierdie twee manne was hardkoppig, en hulle sou baie beslis nie moed opgee nie. Jy weet nie wat jy van hulle kan verwag nie, dus moet Jerusalem dééglik beskerm word solank hierdie twee belhamels daar buite lê en loer. Daarom beveel hy dat die stadspoorte snags gesluit word, en dat hulle nie oopgemaak word voordat die son behoorlik op is nie. En saans wanneer die son sak, word hulle weer gesluit en gegrendel. En solank as wat die poorte oop is, moet die poortwagte op hulle pos wees.

Buiten vir hierdie reëlings, word daar ook wagte aangestel op strategiese plekke. Verder word daar voor die wagte se huise ook wag gestaan. Nehemia wou nie kanse waag nie!

En daarmee is Nehemia se groot taak in Jerusalem afgehandel. Dit was ‘n uiters suksesvolle missie!
Waarom kon Nehemia hierdie taak so goed afhandel? In die eerste plek omdat hy ál sy vertroue op God kon plaas. Reg van die eerste gedagtes af, deur sy lewensgevaarlike onderhandelinge met die koning van Persië, tot met die voltooiing van die muur. Hy was ten volle oortuig dat hy deur dik en dun op God kon vertrou.

Maar tweedens was daar ook Nehemia se eerlikheid, onbaatsugtigheid sy opregtheid, en die feit dat hy ál sy bekwaamhede ten volle gewy het aan die taak wat God hom op die hart gelê het.
Kan dieselfde van jou en my gesê word?

Here, ek wil ook graag dat mense van my kan sê wat van Nehemia en Gananja gesê was.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 125 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *