Spreuke 4:23

Austin Higgs

HART.

Spreuke 4:23: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
En
Lukas 6:45: “Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
EN
Mattheus 22:37: “Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.'”

Dit lyk my hier het ons met iets ernstigs te doen. Dit lyk my die hele menswees is gesetel in die hart en dat dit jou lewe en jou uitkyk op die lewe bepaal. Dit beteken dat jou hart bepaal hoe jy na iemand kyk en hoe jy situasies hanteer en hoe jy liefhet en hoe jy elke negatiewe of positiewe ding in jou lewe hanteer. Daar is mos die gesegde wat sê dat dit nie gaan oor wat jou oorkom nie, maar dit gaan alles oor hoe jy dit hanteer.

My vraag vir vandag is dan: Wat gaan in jou hart aan? Die volke in ons land wil mos sê dat jou hart wit of swart is en as jou hart swart is, dan beteken dit jy is besig om kwaad te wees of dat jy in staat is om kwaad te doen, om mense te na te kom of om mense seer te maak.

Wat die hart van vol is loop die mond van oor, sê dit amper alles, want dan beteken dit wat jy is kom te voorskyn as jy jou mond oopmaak. As jy negatief is, sal iemand dit oombliklik weet as jy jou mond oopmaak en as jy vol lewensvreugde is, sal almal dit sien en hoor as jy jou mond oopmaak. Dis so asof alles wat jy is – jou persoonlikheid, jou hele menswees – volgens hierdie verse in jou hart opgesluit lê.

Dis hierdie hart wat die Here van praat wat van klip gemaak is en wat Hy wil vervang met ‘n hart van vleis, wat kan klop in jou bors vir ander en wat empatie kan hê en liefde kan uitdeel.

Vader, bewaar my hart daarvan dat ek kwade gevoelens mag koester of iemand enige leed wil aandoen en help my om my naaste lief te hê soos myself in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 139 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *