Handelinge 25:13-26:32

Austin Higgs

Voor ‘n Uitgelese Gehoor – Handelinge 25:13-26:32

Wanneer Porkius Festus as goewerneur oorneem, moet hy darem mos nou behóórlik verwelkom word, en so besluit Koning Herodus Agrippa II om ‘n staatsbesoek te bring aan Festus om hom baie welkom te laat voel. Hy word vergesel van sy suster Bernice wat by hom bly. Sy was voorheen met Herodus van Chalkis getroud, en sy is ook die suster van Drusilla. Herodus van Chalkis was Herodus Agrippa II se pa se jonger broer. Probeer nou maar self hierdie familieverband uitwerk! ‘n Groot deurmekaarspul!

En so kom die koning van Judea en sy gevolg met groot seremonie in Sesarea aan om ‘n paar dae by goewerneur Festus deur te bring. Festus kan maar nét nie vir Paulus uit sy gedagtes kry nie, selfs nie eers gedurende hierdie koninklike besoek nie. Hierdie man het ‘n gróót indruk op hom gemaak. Dan vertel hy vir Agrippa van Paulus: “Hier is iemand wat deur my voorganger, Feliks as gevangene agtergelaat is. Die Jode wil hom met alle geweld laat skuldig bevind, maar toe ek hom verhoor, kon ek rêrig niks kry wat énigsins tronkstraf kon regverdig nie. Dit het alles gegaan oor twisvrae oor ‘n sekere Jesus wat glo dood is. Hierdie man beweer egter dat Jesus nog lewe.”

“Dit maak nie sin nie”, krap Agrippa sy kop.

“Ja, en toe wil die Jode hê dat ek hom na Jerusalem toe moet stuur sodat hulle hom daar kon verhoor. Ek het eerlik nie geweet hoe om die saak te hanteer nie, en ek wou hom stuur. Maar die man beroep hom toe op die keiser. Hy het verkies om eerder in gevangenskap te bly as om deur die Jode verhoor te word.”
Nou is Agrippa baie nuuskierig. Hierdie Paulus klink na ‘n baie interessante karakter: “Ek sou baie graag ook die man wil hoor,” vra hy vir Festus.

“Ek sal reël dat u hom more kan hoor,” belowe hy.

Die volgende oggend blaas die trompette ‘n fanfare wanneer koning Herodus Agrippa en Bernice met groot vertoon die saal binnekom. Al die belangrikste mense is daar, die generaals en elkeen met status.
Op Festus se bevel word Paulus ingebring. Hy laat gly sy oë oor die uitgelese gehoor, oral waar hy kyk is dit net goud, blink edelstene en pronkvere. Paulus besef skielik watter groot voorreg dit is om ook die Evangelie te kan deel met al hierdie hooggeplaastes, mense wat andersins nooit óóit die blye boodskap sou hoor nie.

Festus kry eers sy woordjie in: “Koning Agrippa en almal hier teenwoordig, hier voor u is die man wat die Jode almal dood wil hê. Nou het hy hom op die keiser beroep, maar ek weet werklik nie wat om vir die keiser te skryf nie! Dit is mos sinneloos om ‘n gevangene te stuur sonder dat daar ‘n geldige aanklag teen hom is!”

“Jy kan maar jou saak stel,” por die koning vir Paulus aan.

Met ‘n dramatiese handbeweging wend Paulus hom tot Herodus: “Koning Agrippa, ek ag myself gelukkig dat ek my vandag juis voor u teen al die beskuldigings van die Jode kan verdedig, veral omdat u so goed bekend is met al die Joodse gebruike en twisvrae. Ek versoek u dus om geduldig na my te luister.”

En dan begin Paulus en vertel hoedat hy in Jerusalem grootgeword het en dat almal hom daar baie goed ken. Almal weet dat hy ‘n Fariseër was en hoe nougeset hy die Here gedien het. Hy vertel van hoedat hy Christene vervolg het en uiteindelik dan sy ontmoeting met Jesus op die Damaskuspad. Hy vertel van Jesus wat moes ly, maar dat Hy uit die dood opgestaan het, en dat Hy die lig aan die Jode sowel as die heidennasies bring.

“Paulus, jy is mal!” skree Festus. “Jou groot geleerdheid maak jou mal!”

“Nee,” antwoord Paulus, “ek is nie mal nie u Edele, maar onder leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid. En dan wend hy hom tot die koning: “Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo!”

Die koning is totaal uit die veld geslaan: “Jy dink jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak!” stamel hy.

“Ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word soos ek is, net sonder die boeie.”

Daarop staan Agrippa en sy gevolg op. Hy is nie gewoond dat ‘n tronkvoël hom in die openbaar aanvat nie! Terwyl hulle uitloop sê Agrippa vir Festus: “Hierdie man het niks verkeerd gedoen nie. Hy kon nou vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.”

Wanneer ons die gedeelte in die Bybel lees, sien ons dat die Christelike geloof nie maar net berus op die een of ander ideologie nie, maar dat alles gegrond is op historiese feite. Jesus se kruisiging en opstanding word nie betwis nie. Daar was talle getuies wat die dinge met hulle eie oë sien gebeur het.
Maar ons sien ook hoedat Paulus ‘n koning reguit konfronteer met die Evangelie. Dit kos moed! Maar hy doen dit met die krag van die Heilige Gees. Ek en jy het daardie selfde krag vandag steeds tot ons beskikking!

Here, dankie dat ek vanoggend weereens kan besef dat alles oor U waar is. Gee my ook asseblief soos Paulus daardie moed om van U te vertel wanneer die geleentheid hom voordoen in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 117 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *