Amos 3:9-15.

Austin Higgs

TWEE POOTJIES EN ‘N STUKKIE OOR.

Amos 3:9-15.

Ons ry deur die Krugerwildtuin – ek, Dawn. Leeus, dit is wat ons soek – opwinding! En skielik kry ons net mooi dit. En dan sien ons hulle – die ou maanhare wat luilekker in die pad lệ dik gevreet.

Daar was ‘n ou Israelietiese gebruik dat, as ‘n leeu een van die skaapwagter se skape vang, hy bewys moet lewer dat hy nie die skaap geslag het nie, maar dat ‘n leeu wél die dier gevang het, al is dit ook net ‘n oortjie en twee pootjies. Dit kan selfs beteken dat hy die leeu moet verjaag om die bewysstukke te kry. As jy op so ‘n wyse twee pootjies en ‘n stukkie oor red, dan red jy beslis nie die skaap nie!

Maar wag, laat ons voor begin! Amos roep getuies bymekaar om te kom kyk na die verwoesting. Diegene wat hy roep is spesialis-getuies, want hulle weet alles van verwoesting af. Die Egiptenare en die Filistyne was bekend vir hulle wreedheid en verdrukking en geweld, en daarom is hulle die regte mense om te kom aanskou wat gaan gebeur. Dit is die volk Israel wat veroordeel is en tot ‘n gewelddadige einde gaan kom. Sy stede sal afgebreek word en die mooi huise sal kaalgestroop word. Al wat sal oorbly is ‘n enkele bewysstuk: twee pootjies en ‘n stukkie oor (Amos 3:11-12).

Maar waarom?

Amos som die oorsaak op in vers 10: “Hulle wat geweld en verwoesting in hulle mooi huise herberg, weet nie hoe om reg te doen nie, sê die Here.” Dit is ‘n verskriklike aanklag teen Israel. Maar wat presies beteken dit? Die Israeliete het hulleself verryk deur gewelddadig op te tree. Met geweld het hulle rykdom bekom, en in die proses het hulle verwoesting gesaai. Geldgierigheid het van hulle monsters gemaak. Hulle het vir hulle mooi huise en paleise gebou met hulle buit, en op die koop toe sommer ook ‘n somerhuis iewers laat bou. Hulle het gerol in die rykdom en op “rusbanke en oorgetrekte gemakstoele” gesit (vs. 12). En dit ten koste van die arme mense wat hulle so wreed uitgebuit het.

Amos se aanklag is ook dat hulle nie weet hoe om reg te doen nie. Hierdie het niks te doen met die voorskrifte van die Here nie, maar dit verwys na die normale aanvaarbare gedrag van alle mense. Selfs die heidene het geweet wat reg is en wat verkeerd! Ons kan dit dalk vertaal met “regverdig” of “billik”. Jy hoef nie ‘n gelowige te wees om te weet wat reg is nie!

Ons in Suid-Afrika (en ook in menige ander lande) sit op ‘n tydbom wat tik-tik-tik. Ons is besig met presies dieselfde dinge as wat in Israel gebeur het. Materialisme is ‘n draak wat verslind. Ons sien maar net die oortjies van die seekoei uitsteek, as die manne verbonde aan die regering uitgewys word. En dan skree ons almal saam oor daardie enkelinge. Maar ons sien nie die massa stinkrykes wat hulle geld bekom het met uitbuiting, buitensporige winsgrense en misleidende advertensies nie. Prysmanipulasie is ‘n lelike vloekwoord wat die afgelope tyd op almal se lippe is – waar selfs die mees basiese kos waarvan armes moet oorleef – brood – se koste deur prysvasstelling vir die armes onbekostigbaar gemaak is.

Talle mense se lewens word verwoes deur dwelmsindikate waar superrykes die septer swaai. Motorkapings, kitsbankrooftogte en ander gewelddadige handelinge verryk iemand wat rustig in sy gemakstoel sit. Maar dit kom ook nader na my en jou, wat dikwels oneerlik handel. “Suid-Afrika, draai terug na GOD!” skree ‘n klompie stemme uit die woestyn, maar dit val op dowe ore, en die geweld en korrupsie floreer!

“Ek sal die winterhuis platslaan saam met die somerhuis”, waarsku Amos oor die toorn van die Here, “die huise met ivoorinleg sal vergaan, baie huise sal verdwyn, sê die Here.”

Amos se waarskuwing weergalm oor Israel. Maar vandag weergalm daardie selfde waarskuwing oor Suid-Afrika, want die onreg in ons land is reusagtig groot. Wat gaan ons daaromtrent doen? In Maartmaand was daar ‘n reuse saamtrek by die Uniegebou waar “Amos” weereens gepleit het: “Draai terug na GOD!”. Die vraag is of ons gaan luister. Gaan ons land reageer op daardie pleidooi? Ek is bevrees: die Here se oordeel hang alreeds soos ‘n vlammende swaard oor ons land. Kom ons begin by onsself en maak reg wat verkeerd is in ons lewe, anders gaan daar dalk net twee pootjies en ‘n stukkie oor oorbly.

Here, ek staan diep skuldig voor U. Help my om reg te maak wat ek verkeerd doen in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 97 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *