Eksodus 33:12–17

HOE SAL DIT DUIDELIK WEES? – VRIENDSKAP.

Partymaal wonder ‘n mens of die Here werklik by jou is, of jy reg gehoor het toe jy die Here gevra het om Sy leiding in ‘n saak.

Die Here het van Moses gesê dat hy Sy vriend is. En tog het Moses soms ook gewonder wat die Here vir Sy volk beplan. En dan kry hy weer die versekering van die Here dat Hy hulle nooit alleen sal los nie.

Hierdie beloftes geld vandag nog. Ook vir jou. Die Here is lief vir jou. Vreeslik baie. Hy sal jou nie alleen los nie. So, moenie ongeduldig raak as alles nie onmiddellik gebeur en dinge vir jou in plek val, soos jy dit graag wil sien nie. Vra die Here wat Sy planne vir jou is! Jy het mos nou geleer dat jy ‘n gesprek met die Here voer wanneer jy bid. Gee nou die Here kans om te antwoord en die sake vir jou duidelik te maak.

Eksodus 33:12–17. Ek gaan net gedeeltes aanhaal: “As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel en met ons handel as met al die ander mense? Toe antwoord die Here, goed, Ek sal doen wat jy vra. Jy dra My goedkeuring weg. Jy is My vriend.”

Verstaan jy nou? Dit is waarna jy moet strewe in jou gebedslewe: dat die Here jou sal antwoord en sê dat jy Sy goedkeuring wegdra en dat jy Sy vriend is. Kan jy dink hoe lekker dit sal wees?

Here, vandag wil ek bevestig dat ek nie ‘n tree kan of sal versit sonder U nie. Bevestig dan dat U saam met My sal wees al die dae en dat ek bewus sal wees van U liefde en vriendskap, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 94 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *