Esegiël 47:3

Austin Higgs

ENKELS.

Esegiël 47:3: “Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep.”

Dis ‘n deel van die Ou Testament waar die Here Sy seën oor die volk uitspreek as hulle binne Sy wil leef. Hy vertel hoe Sy seën meer en meer word en dat Esegiël moet meet.

Die seën kom uit die tempel – kom dus van die Here af en dit word meer en meer soos wat mens verder loop. Dis later soveel dat Esegiël moet swem, want dis te veel.

Hierdie strome van lewende water wat lewe gee aan alles, is die mooiste Messiaanse profesie, dat selfs lewe sal terugkom in die dooie see. Die water gaan nie oral inloop nie en die plekke sal dood bly, maar al langs die stroom gaan bome groei en vrugte dra – mense gaan die Here aanvaar en begin om ander van Jesus te vertel.

Die dooie see gaan weer vol vis word en kos gee aan almal wat daarin gaan soek.

By die tempel gaan dit maar min wees, want daar loop ‘n klomp huigelaars rond. Ek lees vanoggend die verhaal van Paulus wat na sy eerste besoek aan Rome ‘n tweede keer in Jerusalem in hegtenis geneem is deur ‘n klomp kerkmense wat hom wil vermoor. Is dit nie maar ook wat met Jesus gebeur het nie????

Ek wonder vandag of ons enkeldiep in Sy genade staan of hardloop ons vir die diep waters. Drink ons die lewende water in asof ons lank nie water gesien het nie? Swem ons in al die seën of staan ons enkeldiep?

Dankie, Vader, dat U altyd bereid is om strome van lewende oor ons te laat spoel. Help ons om nie net enkeldiep in te stap nie, maar om diepkant in te spring en in die volheid van U genade te deel. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 110 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *