Glutenvrye Soetgoed

MAAK JOU EIE GLUTENVRYE MEEL

Die term “glutenvry” beteken gewoonlik die hoeveelheid gluten in ’n produk is skadeloos eerder as dat dit glad geen gluten bevat nie.

In sommige graansoorte soos aartappels, rys en tapioka is die vlak so laag dat dit in ’n glutenvrye dieet gebruik kan word.

Ons basiese glutenvrye meel kan as plaasvervanger in enige gebak gebruik word.

Vervang net die hoeveelheid gewone meel in die oorspronklike resep met dieselfde hoeveelheid glutenvrye meel.

As jy bruismeel wil maak, kan jy 10 ml bakpoeier byvoeg.
Lewer 350 g meel

Bestanddele
85 g (125 ml) aartappelstysel
1 ml sout
170 g (240 ml) rysmeel
100 g (250 ml) tapioka-meel

Metode
Sif al die bestanddele drie keer saam om dit goed te meng. Bêre in lugdigte houer.

Gluten in gebak
Wanneer gewone koek of broodmeel met water gemeng word, swel die stysel en gluten en die beslag word “dik”.

Gebak wat jy met glutenvrye meel maak, is meer loperig as waaraan jy dalk gewoond is. Maar dis reg so.

Grondboontjiebotter-roomys deur Herman Lessing

Yskoue roomys met ’n boontjiebotter-smakie wat wegsmelt onder ’n suikersoet sjokoladekombers.
Genoeg vir 8

Bestanddele
375 ml melk
1 vanieljepeul, saadjies uitgekrap
5 eiergele
100 g (120 ml) strooisuiker
250 ml growwe grondboontjiebotter

Sjokoladesous
125 ml room
1 x 100 g-plak 70%-sjokolade, fyngekap

Metode
Bring melk en vanieljepeul met uitgekrapte saadjies tot kookpunt in ’n pot. Verwyder van hitte. Klits eiergele en suiker saam tot lig en romerig in ’n mengbak. Terwyl jy klits, voeg die warm melkmengsel by. Gooi hele mengsel terug in pot en roer met houtlepel oor lae hitte tot mengsel die agterkant van die lepel bedek, sowat 5 – 8 minute. Moenie die mengsel laat kook nie – dit sal skif. Verwyder van hitte en roer grondboontjiebotter by. Meng goed en laat afkoel tot yskoud in yskas. Plaas mengsel in vriesbestande bak in vrieskas. Roer elke 10 minute tot mengsel dik en romerig gevries is. Laat vries verder tot heeltemal hard.

Sous: Bring room tot kookpunt en gooi oor gekapte sjokolade. Roer tot gladde mengsel. Skep balle roomys en sit voor met sous.

Sjokolade-moussekoek
deur Herman Lensing

Die basis is bokskoek. Kyk by gesondheidswinkels vir glutenvrye koekmengsels.
Genoeg vir 8 – 10

Bestanddele
1 x glutenvrye sponskoek
250 ml gladde grondboontjiebotter

Mousse
80 ml melk
200 g donkersjokolade, fyngekap
8 g gelatien
45 ml water
250 ml room, geklits tot sagte punte
5 ml kakao vir oorsif

Metode
Verhit oond tot 180 °C. Maak sponskoek aan volgens aanwysings op boks en bak tot goudbruin en gaar. Laat afkoel. Sny sponskoek in dun skywe van so 2 cm. Voer 30 cm-losboomkoekpan uit met kleefplastiek. Voer bodem uit met koeksnye. Smeer grondboontjiebotter oor koek. Mousse Bring melk tot kookpunt en gooi oor gekapte sjokolade. Roer tot gladde mengsel vorm. Sprinkel gelatien bo-oor water en laat staan tot opgeswel. Laat smelt oor kookwater. Voeg by gesmelte sjokolademengsel en meng goed – indien die mengsel stol terwyl jy gelatien inmeng, plaas oor pot met warm water en roer tot glad. Vou geklopte room by. Gooi hele mengsel oor koek in pan en plaas vir sowat 3 – 4 uur in yskas om te stol. Verwyder ring en sif kakao oor. Sit voor.

Japie se gunsteling, met ’n sjokoladekinkel
deur Herman Lensing

Die bekende S.J.A. de Villiers, skrywer van Kook en Geniet (Human & Rousseau), het ’n klomp poedings getoets en haar man, Japie, moes alles proe. Dié lemoenpoeding was sy gunsteling. Ons maak ons s’n effens anders met ’n titsel sjokolade.

Genoeg vir 6

Bestanddele
125 ml room
1 x 100 g-plak 70%-sjokolade, fyngekap
80 ml gladde grondboontjiebotter
3 groot eiers, geskei
375 ml strooisuiker
60 g (120 ml) glutenvrye meel
375 ml melk
310 ml lemoensap
30 ml suurlemoensap
skil van 1 lemoen
25 g (45 ml) botter, gesmelt

Metode
Verhit oond tot 180 °C. Bring room tot kookpunt en voeg sjokolade en grondboontjiebotter by. Roer tot glad. Verdeel mengsel tussen 12 oondvaste koppies met volume van 250 ml elk. Klits eiergele, strooisuiker, meel, melk, lemoenen suurlemoensap, lemoenskil en botter saam. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en vou by melkmengsel in. Verdeel bo-op sjokolademengsel tussen die 12 koppies en plaas op diep oondpan. Vul met kookwater tot halfpad teen die koppies op. Bak 25 – 30 minute of tot goudbruin en gepof. Sit warm voor. Wenk Die beslag lyk baie loperig, maar dis reg so – die resep het die toets van tyd oorleef!

Grondboontjiebotter-en-sjokolade-meringue
deur Herman Lensing

Tradisionele suurlemoenmeringue-tert, op sy kop gedraai met nuwe vlerke!

Genoeg vir 8 – 10
1 x 200 g-pakkie glutenvrye koekies
50 g (55 ml) botter, gesmelt
125 ml gladde grondboontjiebotter
180 ml room
200 g sjokolade, fyngekap
4 eierwitte
200 g (250 ml) strooisuiker

Plaas koekies in ’n voedselverwerker en verwerk by hoë spoed tot fyn. Voeg botter by en meng tot klam, klewerige mengsel vorm. Voer ’n 30 cm-tertpan uit met die krummels. Smeer dun lagie grondboontjiebotter bo-op krummels. Bring room tot kookpunt en gooi oor gekapte sjokolade. Roer tot glad. Gooi in tertpan en plaas vir 1 uur in yskas om te stol. Gooi eierwitte in skoon mengbak en klits met elektriese klitser tot sagte puntevorm. Terwyl menger loop, gooi suiker geleidelik by en hou aan klits tot blink en styf. Skep meringue bo-op tert en brand bruin met kombuisblaasvlam of onder oond se rooster-element. Sit voor.

Wenk: Al gehoor van sout by grondboontjiebotter? Voor jy die meringue bo-op die tert skep, sprinkel ’n bietjie sout oor die sjokoladevulsel en skep dan meringue op. Dit rond die bitter van die sjokolade en die soet suiker goed af.

Grondboontjiebotter-doughnuts deur Herman Lensing

Maak jou eie doughnuts. Dis eintlik baie maklik.
Genoeg vir 10 – 12

Bestanddele
125 ml room
250 ml gladde grondboontjiebotter
30 ml louwarm water
125 ml louwarm melk
30 ml strooisuiker
20 ml heuning
80 g (85 ml) botter, gesmelt
2 eiers
1 x 10 g-sakkie kitsgis
300 g (580 ml) glutenvrye meel
10 ml karamelgeursel
sonneblomolie vir diepbraai
kaneelsuiker

Metode
Bring room en grondboontjiebotter tot kookpunt. Roer tot gladde sous vorm en hou eenkant. Plaas water, melk, suiker, heuning, botter en eiers in elektriese menger se bak. Voeg gis, meel en geursel by. Meng vir so 10 – 12 minute by hoë spoed met die meng-spaan (K-beater) tot hele mengsel in ’n sagte, klewerige deegbal saamkom. Plaas deeg in skoon bak wat met olie gesmeer is en maak toe met kleefplastiek. Laat rys op ’n warm plek tot dubbel in volume, so 30 – 45 minute. Verhit sonneblomolie in groot pot tot medium- warm. Sprinkel dun laag koekmeel op werkoppervlak en keer uitgerysde deeg daarop uit. Druk plat tot sowat 1 cm dik. Druk nou sirkels uit met ronde koekiedrukker met deursnee van 12 cm. Gebruik kleiner 2 cm-drukker en druk gaatjie in elke deegsirkel. Diepbraai in olie vir sowat 3 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker. Sit voor met grondboontjiesous.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 1,305 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *