Handelinge 21:37-22:5

Austin Higgs

Paulus se Toespraak.

Handelinge 21:37-22:5

Wanneer Paulus die kommandant Klaudius Lisius in sy moedertaal, Grieks aanspreek, is die soldaat baie verbaas. Hy was oortuig dat hy daardie Egiptenaar was wat so baie moeilikheid veroorsaak het.

Die Egiptenaar ter sprake het homself voorgedoen as ‘n profeet, so vertel die Joodse historikus Flavius Josefus. Hy het ‘n klomp Jode opgesweep en hulle na die Olyfberg geneem. Daar moes hulle saam met hom wag vir die regte oomblik. Op sy bevel sou die mure van Jerusalem ineenstort, soos destyds met Jerigo, en dan sou hulle al die Romeine uit die stad uit verdryf. Daar was ‘n groot skare mense in groot afwagting saam met hom op die Olyfberg.

Voordat hy egter sy daad kon uitvoer, slaan die Romeinse garnisoen op hulle toe en maak ‘n klomp van hulle dood. Die Egiptenaar het die woestyn van Judea ingevlug saam met vierduisend van sy volgelinge.

Nee, Paulus is nié daardie Egiptenaar nie, so lig hy die kommandant in. Hy is ‘n Jood. Maar nie sommer enige plaaslike Jood nie, hy is afkomstig uit die belangrike kultuurstad Tarsus in Silisië, en hy is ‘n burger van daardie stad. Die kommandant moet dus besef dat Paulus Romeinse burgerskap het, en dus het hy voorregte wat die gewone Jode nie het nie. “Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek,” versoek hy vir Klaudius.

Die kommandant staan sy versoek toe, en Paulus gaan staan op die trap en draai na die rumoerige skare. Hy hou sy hande in die lug, en die mense begin stil raak. Dan begin Paulus in perfekte Aramees met hulle praat. En skielik sak daar ‘n doodse stilte toe. Jy kan ‘n speld hoor val wanneer Paulus begin praat.

Dalk moet ek dit net hier noem, dat wanneer die Nuwe Testamentiese skrywers praat van Hebreeus, dan word daar eintlik verwys na die algemene spreektaal van die Jode, Aramees. As Lukas dus in Hand. 21:40 sê dat Paulus in Hebreeus met hulle praat, dan bedoel hy Aramees.

“Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê,” begin Paulus baie beleefd. Almal luister aandagtig wanneer Paulus vertel wie hy is en waar hy vandaan kom. Hy is ‘n rasegte Jood uit Tarsus. Volgens sy afkoms móét hy ‘n eerbare man wees. En dan het hy boonop onder die beroemde en gerespekteerde Gamaliël gestudeer, waar hy volgens die streng opvattings van die wet van Moses opgelei is. “Ek was net so ‘n kampvegter vir God soos julle vandag is,” vertel hy, en hulle respek vir hierdie groot man styg nog hoër.

Hierdie skare het hom in die openbaar tot skande gebring, en Paulus moet sy eer herstel. Daarom is dit noodsaaklik dat hy nie sommer met ‘n verdediging wegval nie, maar dat hy die regte inleiding tot homself gee. Hy maak dit dan ook baie duidelik dat hy nie besig is om die een of ander vreemde godsdiens te verkondig nie. En boonop is hy glad nie vyandig teenoor die Joodse tradisies nie. Hy respekteer dit, en sy agtergrond getuig daarvan.

Paulus vertel vir hulle hoe hy destyds die Christene vervolg het. Hy het hulle totaal uitgeroei, mans en vrouens in die tronk laat stop. “Vra maar vir die hoëpriester, hy en die hele Joodse Raad sal dit alles bevestig!” vertel hy smalend. “Ek het selfs bekendstellingsbriewe van hulle gekry om die Christene te gaan jag so ver as Damaskus!” voeg hy by.

“Het ons onsself dan totaal misgis met hierdie eerbare man?” vra ‘n paar ou ringkoppe vir mekaar.

Sien ons hier ‘n totaal ander sy van Paulus? Beslis nie! Hy probeer maar net om die skare se volle aandag te kry sodat hy aan hulle die ware blye nuus, die Evangelie van Jesus kan meedeel.

Later, wanneer hy in die tronk sit in Rome, skryf hy ‘n brief vir die gemeente in Filippi, en dan vertel hy onder meer vir hulle dat sy Joodse afkoms en sy eerbare posisie as Fariseër eintlik vir hom bitter min werd is in vergelyking met die Evangelie van Jesus Christus (Filippense 3:2-7). Hy skryf in vers 7: “Maar wat eers ‘n bate vir my was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”

Wat is die dinge wat vir ons waardevol is? Die een sal sê dat sy werk vir hom van groot waarde is. Hy geniet sy werk en hy het ‘n goeie posisie. Iemand anders sal weer meen dat sy eiendom vir hom baie beteken. Hy het die huis met groot sorg ontwerp en gebou, of dalk het hy die plaas van sy oupa geërf, en dit is vir hom van groot sentimentele waarde. Vir ‘n ander is haar tuin, waarin sy soveel liefde gesit het, en wat die sieraad van die omgewing is, weer die groot waarde in haar lewe.

Dit kan jou gesin wees, jou kinders, jou ouers, jou vriende. Inderdaad is sulke dinge kosbaar, maar ons mag vir géén oomblik vergeet nie dat hulle almal gawes van God is. En ons moenie so verknog raak aan hierdie kosbaarhede dat dit ‘n moeilike keuse raak tussen hulle en die Here nie.

Here, dankie vir al die wonderlike dinge wat U my gegee het. Maar vir my is daar slegs één ding wat wáárlik kosbaar is, en dit is om U as deel van my lewe te kan

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 87 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *