Lukas 23:38-43

MOENIE HOOP NIE – BESLUIT!

Lukas 23:38-43: “En hy sê vir Jesus: ‘Dink aan my, Here, wanneer U in U koninkryk kom.’ En Jesus antwoord hom: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees'” (vs. 42,43).

‘n Man wag op die lughawe van Portland, Oregon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig afgestap het, vertel eerw. David A. Sargent. Sy aandag word getrek deur ‘n ander man wat met twee ligte tasse in sy hande, tussen die ander passasiers deur, aankom. ‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun antwoord skamerig, “Ek ook, Pappa.” Die man kom regop en groet ‘n ander seun, miskien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.” ‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar koppie vol bevrediging teen sy skouer. Hy gee die dogtertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoelvol, “Ek het jou so lief!” Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Verleë sê hy “Wow! Hoe lank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, bloesende vrou af te neem. “Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande weg van sy geliefdes af. Verleë prewel die starende man, “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.” Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom direk in sy oë en met ‘n erns wat die toeskouer tot in sy hart tref sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!”

Dit geld nie net vir die getroude lewe nie, maar vir al die ernstige sake in ons lewens. As daar ‘n oop weg is, moet dan nie net hoop nie. Dít bring mens nêrens nie. Besluit! Dit geld ook ons geestelike lewe. Iemand kan sê: Ek hoop my saak met God is reg. Ek hoop ek sal hemel toe gaan. Dis nie genoeg nie. Jesus Christus het die weg vir ons so wyd oopgemaak, dat ons kan besluit. “Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel… dit het alles nuut geword…Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Korinthiërs 5:17,20). Sélf beloof Jesus ons: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My” (Openbaring 3:20).

Here, vandag maak ek die deur van my hart vir U oop. Red my asseblief, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 79 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *