Romeine 5:1–11

Austin Higgs

DIE PRYS WERD.

Romeine 5:1–11: “Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterf. Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (vs. 7,8).

Tydens die Vietnamoorlog is ‘n gegradueerde jongman van West Point Acadamy, in VSA, Vietnam toe gestuur om ‘n groep nuwe rekrute in ‘n geveg te lei, vertel eerw. David A. Sargent in sy internetrubriek. Een nag is hy en sy bataljon deur die Viet-Kong oorval. Hy kon al sy manne, behalwe een, na veiligheid uitlei. Die man wat agtergelaat is, was ernstig gewond en die luitenant en sy manne kon in hulle loopgraaf hoor hoe hy kerm en huil. Om hom te gaan help sou ‘n seker dood in die kruisvuur van die vyand meebring. Deur die nag het die gewonde man gelê en kerm. Uiteindelik kon die jong offisier dit nie meer uithou nie. Hy het uit die loopgraaf geklouter en na die gewonde man toe gekruip. Hy het hom veilig bereik en hom na die loopgraaf toe getrek. Net toe hy die gewonde makker in die loopgraaf instoot tref ‘n koël hom in die rug. Hy is onmiddellik dood.

Na ‘n paar maande was die gewonde man gesond genoeg om na sy mense in die VSA terug te keer. Die ouers van die gesneuwelde luitenant het gehoor die man wat hulle seun teen so ‘n hoë pys gered het, het tuisgekom. Hulle nooi hom na ‘n ete om hom te ontmoet. Die aand van die ete kom hulle gas besope by hulle aan. Aan tafel vertel hy luidrugtig vieslike stories, vloek kort-kort. Die luitenant se ouers het, ter wille van hul gesneuwelde seun, hulle bes gedoen om die jongman te onthaal, maar uiteindelik vertrek hy tot hulle verligting. Toe haar man die gedrinkte man by die deur uithelp en die deur toemaak en na haar terugkeer, stort die ma in duie en begin onbedaarlik huil. “Om te dink ons kosbare seun moes vir so iemand sterf!” roep sy snikkende uit.

Vir só iemand het die Seun van God, die Here Jesus Christus, gesterf. Hy het vir my en vir jou Sy kosbare lewe aan die kruis afgelê. “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van Sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van Sy Seun gered sal word.”

Here, vandag wil ek U met my lewe vereer.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 63 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *