2 Korinthiërs 6:1-7

Austin Higgs

UITSTEL IS GEVAARLIK.

2 Korinthiërs 6:1-7: “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (vs. 2).

Nog ‘n storie wat Pastor Bill vertel, is van die dominee wat by die vulstasie saam met ‘n ry motors wag om brandstof in te gooi, voor hy vir die langnaweek na sy kinders toe ry. Die petroljoggie werk so vinnig as wat hy kan, maar ‘n klomp motors wag om gevul te word. Hy wink die dominee na ‘n oop pomp toe. “Jammer oor die oponthoud, Dominee,” sê hy, “maar lyk my almal wag tot die laaste oomblik om vol te gooi.” Die dominee lag. “Ek weet wat jy bedoel. In my werk het ek dieselfde probleem. Mense stel uit.”

Met sommige take kan ‘n mens waag om uit te stel, maar in die saak van ‘n mens se voorbereiding vir die ewigheid is daar net één verstandige tyd: nou! ‘n Mens wat onderweg is ewigheid toe en nie van sy redding seker maak nie, word in die Bybel ‘n dwaas genoem: “Die ryk man het by homself gedink: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare…leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word,’ …so gaan dit met hom wat nie ryk is by God nie” (Lukas 12:20). Die moordenaar aan die kruis was gelukkig dat hy geweet het sy leeftyd is op ‘n einde en hy het voor hom ‘n wonderlike geleentheid om reg te maak. Die Verlosserkoning hang langs hom aan sy kruis. Hy sê vir Jesus “‘Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees'” (Lukas 23:43). Die tronkbewaarder van Filippi was ook so ‘n verstandige man. Toe sy hart van God se koninkryk en van Jesus se evangelie bewus gemaak word, gryp hy dit dadelik aan: “…die bewaarder…het voor Paulus neergeval en gevra: ‘Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin….’ Hy en al sy mense is daar en dan gedoop” (Handelinge 16:29-34).

Niemand kan bekostig om met hierdie afspraak laat te wees nie. As jy die weg ken, neem nou die stap om Jesus aan te neem as Verlosser: “Here Jesus, red my, asseblief.” So maak ‘n mens die deur van jou hart vir die kloppende Heiland oop. As jy nie seker is nie, vra iemand se hulp. Maar moenie die saak van jou redding vir ‘n dag uitstel nie.

Here, vandag maak ek seker dat ek gered is, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 95 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *