Filemon en Onesimus

Austin Higgs

God se seën word uitgedeel volgens die rykdom van Sy genade, nie volgens die diepte van ons geloof nie.
Filemon en Onesimus

Maande sleep verby, maande van wag om verhoor te word. Jy kan nie sommer vir die keiser laat weet dat hy nou moet plan maak met jou saak nie, dit word nie so gedoen nie! Jy wag geduldig dat die keiser besluit wanneer dit jou tyd is.

Talle voete gaan intussen deur Paulus se huis, en hy het nie tyd om hom te verknies oor hoe lank dit nog gaan neem vir sy saak om voor te kom nie. Die gelowiges kom gedurig na hom toe vir raad en geestelike versterking, of sommer net om van die wyse ou man te kom leer. En dan is daar natuurlik sy medewerkers wat kort-kort met iemand in die straat in gesprek tree, oor die Evangelie, en gewoonlik eindig die persoon dan by Paulus op, want hy is immers die evangelis by uitstek.

En so gebeur dit dat Timoteus een mooi dag by Paulus opdaag met ‘n jong man. Paulus sien sommer dadelik dat Timoteus ‘n probleem het wat hy nie mooi weet hoe om te hanteer nie: “Oom Paulus, ek het ‘n gróót tameletjie! Hierdie kêrel is ‘n slaaf. Die probleem is dat hy weggeloop het van sy eienaar af, en nou is hy baie bang, want sy baas kan hom laat teregstel vir so ‘n verskriklike misdaad. Hy sê dat sy baas al baie van jou gepraat het, Oom Paulus.”

“Kom sit hier by my, seun,” nooi Paulus die mannetjie uit. “Wat is jou naam, en wie is jou baas?”
Sy naam is Onesimus, en wanneer Paulus hoor dat sy baas sy ou vriend Filemon is, dan lag hy. “Ja, ek ken jou baas baie goed, hy is ‘n wonderlike mens, ‘n ware steunpilaar vir die kerk! Maar kom ons gesels eers oor jou probleem.”

Breedvoerig vertel Onesimus vir Paulus van hoe hy weggeloop het, want hy wou vry wees, hy wou nie meer ‘n slaaf wees nie. En nee, sy baas het hom beslis nie sleg behandel nie, Filemon is baie goed vir sy werksmense. Maar nou het Onesimus agtergekom dat die wêreld daar buite wreed is, en hy wil terug na sy baas, en hy is bang…..

Dan begin Paulus by die begin, en hy verduidelik vir Onesimus van die Evangelie. Ja, Onesimus het al menigmaal gehoor dat sy baas daarvan praat, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Wanneer Paulus egter mooi met die man gesels, gebeur die wonderwerk, en maak hy sy hart oop vir die Here. In trane bely hy sy sonde en aanvaar hy die genade van God. Dit is ‘n jubelende Onesimus wat uit Paulus se huis uitdans, en oral wil hy net vertel van die wonderlike ding wat met hom gebeur het. “Ek is ‘n Christengelowige!” borrel dit in hom.

Die volgende dag is hy terug by Paulus, en sy gesig hang: “Oom Paulus, ek wil terug na my baas, maar nou weet ek nie hoe ek dit moet hanteer nie! Sê nou net hy wil my laat teregstel! Wat moet ek maak?”
“Toemaar, los dit vir my,” troos Paulus, en hy roep sommer dadelik vir Timoteus nader: “Kom help my gou dat ons ‘n brief skryf vir Filemon.”

Timoteus is teen hierdie tyd al gewoond aan briewe skryf, en sy inkpotjie staan klaar vol ink en sy gansveer is skerpgemaak. Paulus begin dikteer, eers die gewone inleiding sodat Filemon dadelik sal weet presies wie hierdie brief geskryf het. Ook die gewone dankbetuiging, en dan kom sy “dankie” diep uit sy hart uit, want Filemon beteken vir hom geweldig baie. Sy liefde in die gemeenskap waar hy bly, is ‘n praktiese liefde. Hy gee sy huis gereeld as bymekaarkomplek vir die gelowiges, en boonop doen hy baie om die gelowiges te help in hulle nood.

Dan stel Paulus sy saak uiters versigtig. Hy sê vir Filemon dat hy hom nie wil dwing om vir Onesimus terug te neem nie, maar hy pleit by hom op grond van liefde. Hy sal Onesimus baie graag vir homself wou hou om hom hier te help, maar hy besef dat Onesimus aan Filemon behoort. Hy het immers baie geld vir hom betaal!

Dan verduidelik Paulus vir Filemon dat hy baie goed besef dat Onesimus ‘n slegte ding gedoen het om te dros, maar hier het ‘n wonderlike ding gebeur, en Onesimus het ‘n gelowige geword. Eintlik is hy toe nie werklik meer ‘n slaaf in die ware sin van die woord nie, want hy is mos nou vrygemaak deur Christus! Nou is hy mos deel van die familie, as’t ware ‘n broer!

Ja, inderdaad bly hy steeds fisies ‘n slaaf, want Filemon het hom gekoop. Maar Paulus se pleidooi is dat hy vir Onesimus sal terugneem en hom nie straf vir sy oortreding nie. Paulus is selfs bereid om te betaal as daar enige skade was! Maar Paulus is ook baie gou om vir Filemon daaraan te herinner dat as dit nie vir hom, Paulus was nie, dan was Filemon nie nou ‘n gelowige nie! Dus skuld hy eintlik vir Paulus hierdie guns. “Toe Filemon, maak my hart bly, soos ‘n broer in Christus!” pleit hy voordat hy die brief afsluit.

Met ‘n glimlag wat dreig om reg rondom te gaan, huppel Onesimus uit met sy kosbare brief. “Ek gaan huistoe!” sing dit in hom.

Hoe wonderlik is dit nie om as bemiddelaar te kan optree en vrede maak tussen partye nie! Paulus het dit hier reggekry, en dieselfde Heilige Gees wat vir Paulus die wysheid daarvoor gegee het, is ook in my en jou. Kom ons wees vredemakers!

Dankie dat ek ook ‘n vredemaker kan wees, Here. Gee my asseblief hope wysheid daarvoor in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 188 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *