Handelinge 13:1-12.

Austin Higgs

GAAN!.

Handelinge 13:1-12.

Paulus is die man wat uiteindelik daarin geslaag het om die evangeie van sy Joodse bande los te maak. Lukas vertel van Handelinge 13 af vir ons van die reuse taak wat Paulus onderneem het, en hoedat hy in die proses sowat 16 000 km afgelê het, hoofsaaklik te voet, om die evangelie aan die ganse Romeinse ryk uit te dra.

Alles het begin in ‘n lewendige gemeente, Antiogië, waar die gelowiges nie alleen aan hulleself gedink het nie, maar besef het dat daar ‘n groot wêreld daar buite lê waar die evangelie nog nooit gehoor is nie. Só sterk het hulle gevoel oor hulle sendingvisie, dat hulle hulle twee leraars in die gemeente, Paulus en Barnabas, gestuur het om die sendingveld te betree. Natuurlik het hulle nie “herderloos” agtergebly nie, want Lukas vertel vir ons van ‘n aantal sterk leiers wat die leiding in die gemeente kon oorneem. ‘n Lewende en gehoorsame kerk is ‘n kerk met visie. Dit gaan egter nie alleen hier oor ‘n gemeente wat nuwe gemeentelike strukture geskep het deur goeie beplanning nie, hoe belangrik dit ookal mag wees. Dit gaan hier oor ‘n gemeente wat gereeld saam kom in afhanklikheid voor die Here en Sy wil soek in gebed. Dit gaan oor ‘n gemeente wat tyd saam met die Here deurbring en dan daadwerklik in gehoorsaamheid doen wat die Here van hulle vra.

Wanneer dit gebeur dat ‘n gemeente gehoorsaam word aan die Here se opdrag, beteken dit nie dat alles nou sommer vlot gaan verloop en dat die pad die hele ent geteer gaan wees nie. Daar gaan hewige teenkanting kom, want die duiwel gaan enige opregte poging van ‘n kerk teenstaan. Uit die aard van die saak is dit tog sy heerskappy wat hier in die gedrang kom! So het die heel eerste been van Paulus en Barnabas se sendingreis klaar sy teenspoed gekry. Hulle reis skop af na die eiland Siprus en hulle begin preek in al die sinagoges. In die hoofstad, Pafos, het die goewerneur, Sergius Paulus, van hulle verneem en hulle laat kom om hierdie wonderlike boodskap van hulle te hoor. Een van sy raadgewers, ‘n Joodse towenaar met die naam Barjesus, het hulle egter as ‘n groot bedreiging vir sy eie posisie in die goewerneur se administrasie beskou en hy het hulle openlik teengestaan. Op hierdie punt sou ek seker die handdoek ingegooi en huistoe gegaan het, maar Paulus het hom nie deur so ‘n kleinigheid laat onderkry nie en die towenaar is met blindheid geslaan nadat Paulus hom bestraf het onder leiding van die Heilige Gees. Die gevolg was dat die goewerneur gelowig geword het. Paulus maak dit egter duidelik dat al die eer God toekom. Slegs Hy kan wonders doen en slegs Hy kan mense tot geloof bring.

God vra van ons slegs gewilligheid en gehoorsaamheid om te gaan wanneer Hy ons stuur. Hy sal self voorsien en die woorde in ons mond plaas. En as dinge nie verloop soos wat ons beplan het nie, of as ons hewige teenkanting kry, dan moet ons nie moedeloos raak of tou opgooi nie. Glo dat God in beheer is en dat Hy sal voorsien. Ek en jy hoef nie die lewe te verskaf nie (dankie tog!). Al wat ons moet doen is om die saadjies te saai waar God vir ons vra om dit te saai. Hy sal Self die lewe gee op die regte tyd (nie noodwendig die tyd wat óns wil hê dat Hy dit moet gee nie!).

Jesus het eenmaal gesê: “Neem My juk op julle, want My juk is sag en My las is lig”. En hoe waar is dit nie, want wanneer ons God se werk doen, dan hoef ons nie ‘n hoop verantwoordelikhede saam te dra nie. Ons hoef ons ook nie te bekommer of ons boodskap getref het of nie. Ons moet net doen wat Hy vra en Hy sal Sélf die verantwoordelikheid (en bekommernisse) dra.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 73 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *