Klaagliedere 1:12-22

Austin Higgs

Die Straf van God. Klaagliedere 1:12-22

In vers 12 bars ál die vrou se frustrasie los as sy die Here verwyt, want dit is Hy wat al hierdie verskriklike dinge oor haar gebring het. Dit is Hy wat haar laat ly!

Ons is geskok wanneer ons die beskuldigings hoor. Hoe kan enigiemand vir God beskuldig van sulke dinge? Op die kanselkleed van die kerk waar ek ‘n klein tjokkertjie was, het daar gestaan: “God is Liefde!” En daarmee het ek grootgeword, dat God Liefde is. Soms het die grootmense bietjie hiervan vergeet, en dan het hulle vir ons kinders gesê dat die Here ons gaan straf omdat ons stout is. Maar Sondag sien en hoor jy weer: “God is Liefde!”

Hierdie vrou is diep seergemaak, en sy wil al die blaam op God plaas. Ja, dit was wél haar vyande wat haar verneder het, maar dit is eintlik God wat dit oor haar gebring het. Die dag toe die Here se toorn losgebreek het, het Hy vuur op haar gestuur om haar te verteer, Hy het ‘n strik gestel wat haar laat steier het. Hy het haar verlate gemaak en met ‘n ongeneeslike siekte getref. Die vuur laat ons nogal dink aan Sodom en Gomorra!

Dan gaan sy verder en beskuldig die Here daarvan dat Hy ‘n ondraaglike las op haar plaas, en daarna word haar dapper manne, in ‘n slagting, net ‘n hoop lyke. En om die kersie op die koek te plaas, hou haar vyande ‘n vrolike fees ten koste van haar, waar die wyn vervang word met die bloed van haar dapper manne.
Dit is harde en bitter woorde wat sy gebruik. Juda is fyngetrap soos wat jy druiwekorrels in ‘n parskuip tot ‘n pappery trap. God se eertydse uitverkore volk is vermorsel. Hoe verskriklik is dit nie dat God dit aan haar gedoen het. En nou huil sy bitterlik. Sy steek haar hande uit vir hulp, maar daar is niemand wat wil help nie! Sy het vir almal soos ‘n onaanraakbare onrein vrou geword!

Vandag wil ons dit uitskreeu: “Maar hoe kan die God van liefde dan so onregverdig wees?”

Maar dan gee sy self die antwoord in vers 18: “Die Here het reg gedoen!” Sy bely dat dit haar eie skuld is, en dat dit gebeur het omdat sy ongehoorsaam was aan die Woord van God. Nee, dit is beslis nie God wat onregverdig was nie, hy het regverdig opgetree.

Dan roep sy al die volke op om te luister wat sy sê en dat hulle haar smart moet aanskou, hoe haar jong manne en vroue ballinge geword het, en die priesters wat in die stad agtergebly het, omgekom het van die honger.

Eintlik val die klem hier nie soseer op haar ongehoorsaamheid wat die ellende veroorsaak het nie, maar eerder op die gevolge van sonde, naamlik die straf.

As ‘n kind ongehoorsaam is, sal die ouer praat en waarsku. Nadat daar herhaaldelik gewaarsku is, en die kind steeds nie wil hoor nie, is daar net een uitweg: ‘n pak slae! (Hiermee stem almal nie met my saam nie!) Eintlik is dit glad nie straf nie, maar eerder tugtiging, want die ouer probeer hiermee die kind op die regte pad kry. Ongelukkig onthou die kind gewoonlik daardie pak slae baie langer as wat hy die rede vir die tugtiging onthou.

En dit is presies die geval met hierdie volk van God. Gaan blaai maar deur die boeke van die Ou Testament, en jy sal sien hoe kort van geheue Israel werklik is. ‘n Goeie voorbeeld is die boek Rigters. In Rigters 2:1 lees ons: “Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here: hulle het Baäls gedien.” Die gevolg was die Here se tug deur roofbendes, en dan is die volk jammer en begin weer die Here dien. Rigters 3:7 sê weereens: “Die Israeliete het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here,” en dan volg straf, en hulle kom tot bekering. In Rigters 3:12 is dit weer sulke tyd. En so herhaal die sinnetjie hom tot vervelens toe.

Later wanneer daar konings kom, raak dit selfs nog erger. Uiteindelik word Israel (die Noordryk) in ballingskap weggevoer, en Juda (die Suidryk) sê leedvermakerig: “Ja, julle wóú mos sondig!” Hulle beskou hulleself heiliger as Israel. Maar na vele waarskuwings van die Here verval hulle dan sélf in die sonde, en daar is géén ander uitweg nie as ‘n swaar tugtiging wat hulle vir altyd sal onthou. Hulle word oorval en weggevoer in ballingskap.

En nou kerm die vrou, Jerusalem oor die lot wat sy oor haarself gebring het deur haar gedurige ongehoorsaamheid: “Ek sug gedurig. My hart is gebreek.” (Kl. 1:22)
Hoe moet ek hierdie lied vandag sien? Is die Here tóg eerder die God van straf as die God van Liefde? Nee, beslis nie! God is steeds Liefde!

Die feit is dat God se geduld baie lank aanhou met ons. Hoeveel keer het die Here nie met my gepraat en my gesoebat nie, voordat ek uiteindelik “Ja” gesê het op Sy uitnodiging om Sy kind te word. En selfs daarna was die Here baie geduldig wanneer ek gedurig nog gesondig het. Hy het my al talle male opgetel en weer opgerig. Van straf is daar géén sprake nie. Die swaarkry wat ek beleef het was beslis nie straf nie, maar elke keer ‘n liefdesaksie om my geestelik sterker te maak.

Die persoon wat egter hardkoppig weier om God se genadegawe te ontvang, sal baie beslis nie Sy straf vryspring nie!

Here, dankie vir al U liefde en genade oor my in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 89 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *