1 Korinthiërs 15:21-22 en 45:

TIPES VAN CHRISTUSSE: ADAM.

Ek wil nie die teologie herhaal, alreeds ontwikkel deur mense wat al boeke hieroor geskryf het nie, en gaan dus net kort gedagtes laat oor mense se lewens wat Christus weerspieël of dalk net die teenoorgestelde doen, maar wat op een of ander wyse ooreenstem met die verhaal van die doel en lewe van Jesus.

1 Korinthiërs 15:21-22 en 45: “Aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word… So staan daar ook geskrywe: ‘Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.’ Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.”

Dis amper nie nodig om iets verder hieroor te skryf nie, want die tekste is so duidelik oor hoe Adam die vleeslike, of die liggaamlike, en die eerste mens is wat die sonde die wêreld ingebring het en dat die tweede Adam, Jesus, die eerste Geestelike Een is wat die oplossing bring vir die sonde of die wegneem van die sonde.

As mens nou ‘n film sou maak oor die lewe van Adam, kan mens hom seker uitbeeld as ‘n held, omdat hy die grootste “villain” van alle tye is. As jy dan self een van die slegte mense wil wees, dan kan jy sy plakkaat op jou kamermuur plak en sy leuse jou leuse maak. Mens kan nou ‘n lekker storie hiervan maak, maar die Bybel sê nie veel oor Adam nie, want dis ‘n ou verhaal wat oor en oor vertel is. Hoe waar wat is, gaan ek nie bespreek nie, maar dat die Woord vir ons sê dat hy net mooi die teenoorgestelde van Jesus was. Waar hy sonde doen, is Jesus sonder sonde. Waar hy sonde begin, beëindig Jesus dit. Waar hy die liggaamlike wêreld voorstel, stel Jesus die geestelike wêreld voor. Waar sy wêreld ‘n einde het, het Jesus se wêreld geen einde nie. Waar hy doodgaan en nie weer opstaan nie, gaan Jesus ook dood en staan op om vir ewig te lewe.

Nou kom my vragie, of my pilletjie, want al wat ons mos nodig het is die ‘pil’, die ‘Gospel’: Werk jy teen die werk van die Here? Is dit nie die moeite werd om al jou energie agter ‘n Voorganger in te gooi wat staan vir ewig en wat nie die “villain”, of swart kant van die wêreld, opsoek nie?

Dankie, Vader, vir die alternatief wat U gestuur het om die wêreld te red van ondergang In Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 127 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *