Galasiërs 1:6-10.

Austin Higgs

DIE BRIEF AAN DIE GALASIëRS (2).

LEES: Galasiërs 1:6-10.

In die antieke tyd was dit gebruiklik dat ‘n brief ‘n aanhef het, en direk daarna volg ‘n dankbetuiging oor die een of ander saak, bv. Romeine 1:8: “Allereers dank ek my God….”, 1 Korinthiërs 1:4: “Ek dank my God altyd oor julle….”. Wanneer Paulus egter aan die Galasiërs skryf, is hy so ontsteld dat hy wegval met: “Dit verbaas my……”. Daar is niks in die gemeente waaroor hy dankbaar kan wees nie! Paulus se ontsteltenis is heeltemal verstaanbaar, want die Galasiërs was besig om die verlossing wat God verniet gegee het, weg te gooi. Hulle het dit verruil vir ‘n vals evangelie wat die hart van die evangelie, naamlik God se genade, aangetas het.

Daarmee bedoel Paulus natuurlik nie dat daar absoluut geen verskille tussen gelowiges mag wees nie. Daar is baie kleiner en minder belangrike sake waaroor gelowiges wel verskillende standpunte mag hê. Wat hy egter bedoel, is dat dít wat ons glo, nooit die diepste fondament van die evangelie, God se genade soos Hy dit in Jesus kom bekend maak het, mag aantas nie. Die maatstaf om te onderskei tussen die ware en ‘n vals evangelie is of dit wat ons glo, die belangrikste plek aan God se genade gee. As enigiets of enigiemand anders ‘n belangriker plek kry, is dit ‘n verdraaiing van die evangelie.

Paulus voel só sterk oor hierdie saak, dat hy ‘n dubbele vloek uitspreek oor enigeen wat God se genade verwerp. Op hierdie manier probeer hy om die gelowiges in Galasië tot hulle sinne te bring. Deur ‘n vals evangelie te aanvaar, was hulle besig om God se seën vir Sy vloek te verruil. Dit is baie belangrik dat alle gelowiges dit goed sal begryp: God se seën het ook ‘n ander kant. Wie God se genade en seën verwerp, bring Sy vloek oor homself. Let op dat Paulus die vloek oor almal uitspreek—ook oor homself as hy ‘n vals leer sou verkondig! Dit wys dat God se boodskap altyd belangriker as die boodskapper is. Dit is nie wie preek wat belangrik is nie, maar of die boodskap in ooreenstemming met God se bedoeling is.

Daar is baie dinge in die Bybel waaroor ‘n mens kan redeneer, en vir baie vrae is daar nie klinkklare antwoorde nie, byvoorbeeld oor die skepping, oor Adam en Eva, oor Jona en nog baie meer. Maar daar is sekere dinge wat onder geen omstandighede onderhandelbaar is nie: God se genade wat vir alle mense geld, ongeag van wie of wat jy is, ongeag aan watter ras jy behoort of watter taal jy praat. Die enigste vereiste is geloof in Jesus: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Johannes 3:16).

0000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000

Ek lees hierdie in die boek, Die gebed wat alles verander, van Stormie Omartian: “Aanbidding is nie net ‘n lied nie, dis ‘n lewenswyse. Dis nie net bedoel vir musikante en goeie sangers nie, dis vir elkeen. Dis nie net twintig minute elke week nie. Dis ‘n konstante daaglikse gesindheid wat ons aan God se grootheid en aan ons eie afhanklikheid van Hom herinner.”

Mag ons elke dag opnuut besef hoe afhanklik ons werklik van die Here is en mag ons nooit weer probeer om iets in eie krag te doen nie. Seën vir jou vir die week wat voorlê.
Ons Hemelse Vader, baie dankie vir die dak oor my kop, die kos wat ek het om te eet en dat U elke aand U hand oor my hou waar mense sommer voor mens inry. Dankie dat ek elke aand veilig is. Baie dankie dat ek elke aand in ‘n warm bed slaap. Dankie vir alles wat U vir my doen. Ek dank U in Jesus se Naam, Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 84 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *