Aartappel-Gnocchi met Carbonarasous

Genoeg vir 6 persone
Vir Gnocchi:
1 kg vars “mash & bake” of “boil & roast” aartappels, skilletjie aan, sag gekook in ongesoute water
2 Eiers
1 koppie (250ml) gewone koekmeel
Ekstra meel vir oppervlak-sprinkel

Vir Carbonarasous:
Willow Creek Knoffel gegeurde Olyfolie
1 L vars Dewfresh Room
500 g Ontbytspek fyn gekap
2 Eiers

Metode:
Vir Gnocchi:
Hou ‘n groot kastrol met sterk gesoute water aan die kook sodra jy met die gnocchi begin. Werk met die aartappels nog goed warm na jy hulle gekook het. Verwyder die skilletjies en druk die aartappels fyn met ‘n drukker. As jy nie van aartappelklontjies hou nie, vryf die moes dan nog deur jou meelsif ook, vir n fyner tekstuur. Jy moet ‘n baie droë aartappelpuree hê. Roer die 2 eiers met ‘n vurk deur die moes. Voeg so tweederdes van die koppie meel by en meng goed met die vurk. Toets ‘n bietjie van die deeg, deur dit op jou meelbestrooide oppervlak uit te gooi en liggies, met meel aan jou hande, in ‘n worsie te vorm. Indien dit vir jou hanteerbaar genoeg is, kan jy begin met jou gnocchi, anders kan jy die laaste bietjie meel eers in die deeg inmeng. Vorm ‘n worsie met die deeg van so +-2 cm dik en sny klein stukkies af, deur dit met n ligte “skietbeweging” eenkant toe te skiet. Dit gaan dan in die kokende water in, so 12 stukkies op n slag, vir 4 minute. Hou hul dan eenkant warm met n paar klontjies botter oor. Herhaal totdat al jou deeg in gnocchis omskep is. Hou net warm met botter oor.

Vir Carbonarasous:
Begin deur ‘n bietjie knoffelolie in ‘n groot braaipan op te warm. Voeg die gekapte spek by en braai effens bruin. Giet nou al die room tegelyk by en laat afkook op medium hitte vir so 10 minute. Roer die gaar Gnocchis versigtig deur die roomsous. Hou warm.

NOU: NET VOOR BEDIENING Breek die 2 eiers in die roomsous, roer deur en laat die gereg net goed warm word sonder om tot by kookpunt te kom anders gaan die eiers soos roereier gaar word en die sous ‘n onaangename voorkoms gee. Bedien met gerasperde vars Parmesaankaas.

Wenk:
Maak vir jou mooi garnering deur klein Shitake of Sjimeij sampioentjies liggies in botter te braai.

Spekkrummels: braai spekrepies in matige oond baie bros gaar, druk so droog as moontlik met kombuispapier en kap dan fyn in jou voedselverwerker.

Mikro-kruie lyk ook mooi op die Gnocchi.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 344 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *