Boereworsburgers met uiemarmelade

Deur Arina du Plessis

Om burgervleiskoekies met worsvleis te maak, bespaar jou baie tyd en moeite.

Die vleis is perfek gegeur en sal ook nie breek as jy dit in die pan of op die rooster omdraai nie. Die bekende koljandergeure van boerewors, word goed aangevul met die romerige avokadosmeer en soetsuur uiemarmelade.

Ek gebruik ’n eierring (’n metaalsirkel waarin jy ’n eier breek as jy dit in die pan braai) om die vleiskoekies te vorm, sodat almal ewe groot en ewe dik is.

Vleiskoekies
750 g dik boerewors
Olie, vir braai

Uiemarmelade
3 groot uie, in ringe gesny
30 ml botter
30 ml olyfolie
60 ml bruinsuiker
45 ml bruinasyn
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Avokadoroom
2 groot avokado’s, gesnipper
Sap van 1 klein suurlemoen
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
1 15 g (halwe houer) gladde, ongegeurde maaskaas

Om saam te stel
6 broodrolletjies
Groot handvol slaaiblare

Druk die vleis uit die worsderms en verdeel dit in 6 gelyke dele. Vorm ’n ronde, platterige vleiskoekie van elke deel worsvleis. Bedek en verkoel tot nodig.

Vir die uiemarmelade: Braai die uie in die botter en olyfolie tot gaar en goudbruin. Voeg die bruinsuiker by en braai tot gekaramelliseerd. Voeg die asyn by en verhit tot kookpunt. Prut tot die uiemarmelade verdik en taaierig is. Geur met sout en peper en hou eenkant warm.

Vir die avokadoroom: Druk die avokado’s saam met die suurlemoensap, sout en peper goed fyn. Voeg die maaskaas by en druk verder fyn tot dit ’n gladde, romerige smeer vorm. Verkoel tot benodig. Braai die vleiskoekies in ’n klein bietjie olie in ’n swaarboompan oor matige hitte, tot gaar.

Sny die broodrolletjies oop en smeer mildelik met die avokadoroom. Sit ’n paar slaaiblare bo-op en sit ’n warm vleiskoekie bo-op. Skep ’n lepel uiemarmelade bo-op en sit dadelik voor. Lewer 6 porsies.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 214 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *