Genesis 32:26-29:

Austin Higgs

HERE SEëN MY.
LEES: Genesis 32:26-29: “….Ek sal U nie laat gaan nie tensy U my seën. Toe seën hy Jakob net daar.”

In hierdie gedeelte lees ons van Jakob se worstelling met ‘n man. Die Bybel sê hulle het geworstel tot dagbreek toe. En dit wil voorkom of Jakob nogal ‘n bietjie sterker as die man was, want hy het die man in ‘n greep gehad en wou hom nie laat gaan nie, al het die man sy heup uit lit uit geslaan. En dan volg die gedeelte oor die seëning.

Ek ervaar ‘n klomp dinge wat ek op myself kan toepas in hierdie vertelling:

1. Soms lyk omstandighede rondom my net of dit nag kan wees en boonop die donkerste deel van die nag.
2. Dit is dan wanneer ek Jakob se voorbeeld moet volg en in ‘n “worsteling” met die Here moet raak: moet nie ophou bid nie. Paulus sê jy moet bid met alle danksegging en smeking!
3. Weldra sal die donker om jou wyk, en dit sal soos dagbreek vir jou raak. Kyk hoe die Here jou saak vir jou oplos.
4. Nou kom ‘n belangrike deel: “Ek sal U nie laat gaan nie.” Sê dit vir die Here. Terwyl Hy jou antwoord en jou nag in dag verander, kan jy vir Hom sê dat jy Hom nie sal laat gaan voordat Hy jou geseën het nie. Vra genoeg seën: Elisa het gevra vir ‘n dubbel maat van die seën wat Elia gehad het, en hy het dit gekry.
5. En net daar gaan die Here jou seën. Hy het dit vir Jakob en Elisa en Dawid en Paulus gedoen, en sal dit ook vir jou doen.

Dankie, Here, dat ek U kan vasgryp vandag en aandring dat U my seen in Jesus Naam.

0000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000

 

Spreuke 9.

Wysheid het vir haar ‘n huis gebou met sewe klippilare.
Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek
en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep:
“Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!” En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê:
“Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het!
Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe, kom op die pad van die insig!”
Wie iemand so opvoed dat hy ‘n ligsinnige mens word, moet die verwyt daarvoor dra; wie iemand so leer dat hy ‘n goddelose word, doen dit tot sy eie skande.
Moenie ‘n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.
Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige, en sy kennis vermeerder.
Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.
As jy wysheid het, sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word.
As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan; as jy ‘n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.
Dwaasheid is soos ‘n vrou wat luidrugtig bly klets, stadig van begrip en sonder kennis van sake.
Sy sit by haar voordeur, haar stoel staan op die hoogste plek in die stad,
en sy roep na dié wat verbykom, elkeen besig om sy gang te gaan:
“Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!” Sy sê vir dié wat kennis kortkom:
“Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!”
Dié wat na haar luister, besef nie dat die dood self daar wag nie, dat dié wat hulle deur haar laat nooi het, klaar diep in die doderyk is nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 97 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *