Galasiërs 1:11-24

Austin Higgs

GEE JOU HART EN LEWE VIR JESUS.

Ek het al van baie kragtige bekerings gehoor, maar ek dink dat Paulus s’n die koek vat, veral as gevolg van die agtergrond waaruit hy gekom het. Hy was nie net van die pad af nie, maar hy het dit sy lewensdoel gemaak om Christene van die aardbol af te vee. Onthou, met dieselfde passie waarmee Hy God se dinge nagejaag het, het hy vroeër die Christene vervolg! En kom ons wees nou maar eerlik, ek dink nie daar was iemand wat meer passie en determinasie vir die ongereddes gehad het as Paulus nie!
Daar is baie ander maniere om jou hart vir die Here te gee. Dalk het jy dit gedoen by ‘n Angus-aand. Dalk het jy sommer daar in jou kamer ‘n gebed na God gestuur dat jy ook graag sy kind wil wees. Dalk was jy al van kinds af ‘n kind van God en dalk kan jy nie ‘n spesifieke tyd of plek onthou nie – dit maak nie saak nie.

Al wat saak maak is die belofte van God dat, nog voor ons in ons moeder se skoot gevorm is, nog voordat ons kon kies of kon vra, het God al vir ons gekies. Het Hy toe reeds my naam geken en dit in die boek van die Lewe geskryf! 15God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk.

Paulus was ‘n wreedaardige man. ‘n Man wat vol passie gelewe het en alles tot die beste van sy vermoë gedoen het en nog meer. As hy dus aangestel word as bewaarder van die geloof waaraan sy ouers vasgehou het, het hy nie geskroom om die wat anders lewe, soos bv. die Christene, uit die weg te ruim nie. Met ‘n swaard het hy hulle koppe afgekap.

En tog was Paulus op God se program. God wou vir Paulus kragtig gebruik.

Op die Damaskuspad kom Paulus sy moses tee. Hy loop homself tromp-op in God vas. Die ontmoeting is so groot dat hy vir drie dae nie uit ‘n oog kon sien nie. Maar toe hy weer kon sien, trek hy weg en met dieselfde passie waarmee hy voorheen die Christene uitgeroei het, gaan bring hy die evangelie aan die ongereddes sodat hulle ook Christene kan word. Dit klink eintlik belaglik, maar wanneer God se planne in werking skop, is dit soms vir die mens onverstaanbaar.

Nog voor Paulus gebore was, het God al ‘n plan met hom gehad.

Ek self voel baie klein dat God my gekies het om in sy Koninkryk te woel. Ek weet dat God met ‘n lang plan gewerk het en ja, ook voor my geboorte het God Hom, soos Paulus sê, “ontferm” oor my.
Nog voor ek gebore was, het God al ‘n plan met my gehad.

En so het God ‘n plan met jou lewe. Jy is nie toevallig daar nie, al was jy dalk ook nie soos ek op die program nie. Nee, God het planne met jou. Nog voordat jy ‘n gedagte by jou ouers was, was jy al op God se kaarte. God het ‘n groot plan met jou lewe. Maak nie saak hoe woes jou lewe was of is nie. Maak nie saak of jy God en sy kinders gevloek het of nie. God het groot planne met jou lewe.

Nog voor jy gebore was, het God al ‘n plan met jou gehad.

Daarom is dit belangrik dat jy vandag so sal lewe dat jyself en ander sal weet dat jy ‘n uitverkorene van die Almagtige Vader is. Die meisie band, Shine 4, het vroeër ‘n liedjie gesing met die woorde: “Leef soos jy wil, maar maak ‘n verskil!” Doen dit vandag: Leef soos iemand wat ge-hand picked is deur die Groot Skepper en maak ‘n verskil uit dankbaarheid in ander se lewens.

Galasiërs 1:11-24

Om oor na te dink

Glo jy dat God ‘n plan met jou gehad het nog voor jy gebore is?

Wat is God se plan vir jou lewe?

Waar kan jy ‘n verskil gaan maak?

Vader, dit is goed om te hoor dat U met my ‘n plan het. Soms dobber ek maar net rond en weet nie veel waarheen nie. Help my om U plan vir my lewe te soek en te ontdek. Ek wil die verskil maak wat U al lankal deur my beplan het in Jesus Naam. Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 113 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *