Jesaja 14:1:

DIE HERE SAL.

Jesaja 14:1: “Die Here sal Hom ontferm” (NV) of “Die Here sal genade bewys” (NLV).

Dit gebeur dikwels in ‘n kind van die Here se lewe, dat jy wonder of die Here jou hoor wanneer jy bid. Dit voel soms of jy teen die dak of mure vasbid, dat net jy hoor wat jy gebid het. Jy is nie alleen in hierdie opset nie! Dit gebeur met my ook. En met die ou wat oorkant jou sit in die kerk. En met die persoon wat gereeld vir jou sê dat hy vir jou bid.

Vandag sê die Here vir jou, ja, jy wat nou hier sit en lees: My kind, Ek hoor jou, Ek sal My ontferm oor jou, Ek sal genade bewys aan jou. Al voel jy so af en neerslagtig vandag, Ek het jou hulpgeroep gehoor. Ek sal jou genade bewys. EK SAL!

Een ding moet jy mooi verstaan, Ek verander nooit! Wanneer Ek vir jou sê Ek sal, is dit nie onderhandelbaar nie. Jy kan daarop peil trek. Wees jy net nog ‘n klein tydjie geduldig. Dis al wat Ek van jou verwag: Geduld, lofprysing en aanbidding. Die res doen Ek. Al sien jy dit nie nou nie, Ek het reeds omstandighede so gedraai dat dit tot jou voordeel gaan uitwerk. Luister fyn: hoor jy die geruis in die boomtoppe? Dit is My voetstappe, en jy kan verseker wees dat Ek tot die geveg toegetree het, om die oorwinning weer in jou guns te draai.

EK SAL! EK HET! EK VERANDER NIE! Hou vas aan My woord, sodat jy met verbasing oor ‘n tydjie gaan uitroep:”My mond hang oop oor die wonders wat die Here vir my bewerk het!”

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 50 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *