Johannes 21:1-14.

VISSER VAN MENSE.

Johannes 21:1-14.

Vir drie jaar lank het die twaalftal van Jesus se volgelinge hulle werk gelos en die Meester gevolg. Hulle het dag vir dag aan Sy voete gesit en geleer van die Koninkryk van God. Hy het hulle op talle praktiese ekskursies geneem en gewys hoe die Evangelie verkondig moet word. Die doel van hierdie hele oefening was om ‘n kerngroepie kerkleiers op te lei. Hulle was die mense wat die Evangelie moes uitdra wanneer Hy nie meer daar is om dit te doen nie. Hulle was ook die manne wat by Hom moes oorneem en verder mense oplei om die Evangelie te versprei. En nou skielik is Hy nie meer daar om vir hulle leiding te gee nie. Hulle sit rond en weet nie meer wat om met hulleself aan te vang nie, want skielik is hulle leierloos.

Dan besluit Petrus: hy is mos ‘n visserman! Sy hele lewe lank vang hy al vis – nou is die tyd om weer te begin en sy ou beroep te beoefen. “Ek gaan visvang – wie kom saam?” Sommer gou-gou het hy ‘n gewillige bemanning bymekaargeskraap om te gaan help met sy visvangs. Vannag gaan hulle sommer baie visse uittrek!

Maar dinge verloop nie soos wat hy beplan het nie. Soos wat dit maar met menige hengelekspedisies gaan, kom hulle baie bedroë daarvan af, want hulle hele nag se harde arbeid lewer nie eers een enkele ou sardientjie op nie. Petrus is moedeloos. Alles in die lewe loop vir hom skeef. Niks maak meer sin nie. Hy, die groot visserman, die een wat oral leiding neem – sy wêreld het inmekaar getuimel. Elke keer as hy dink dat hy nou heel bo is, dan het Jesus hom weer teruggebring aarde toe. Toe hy vir Jesus sê dat hy Hom nooit sou verlaat nie, het hy dit eerlik bedoel, maar Jesus het vir hom gesê dat hy sy Meester sou verloën. Hoe verskriklik hard is hy nie daardie aand aarde toe gebring nie! En toe, daardie skriknag, toe sy geliefde Jesus so van bakboord na stuurboord gestuur is en verneder en gemartel is tydens daardie verspotte verhoor, toe moes hy wat Petrus is soos ‘n bang hond wegkruip, sodat mense hom nie dalk sou herken nie. Drie maal daardie nag moes hy lieg, en dit nogal vir ‘n diensmeisie. Hoe verskriklik skaam en verneder het hy nie gevoel nie, dat hy, die onverskrokke Petrus, so afgetakel en bang moes wees. En toe verloor hy alles wat vir hom in die lewe saakgemaak het, toe hulle sy Meester daar aan die kruis vermoor.

En nou hierdie vernedering: hy het gedink dat hy darem nog kan visvang, maar nou kan hy nie eers meer ‘n enkele ou vissie in die hande kry nie.

En dan gebeur die wonderwerk, as Iemand daar van die strand af vir hom beveel om die net aan die ander kant uit te gooi. Wat sal dit nou help? As daar nie visse links is nie, sal daar ook nie regs wees nie! Maar hy gehoorsaam, en hy sê vir die manne om die net anderkant in te gooi. En die volgende oomblik wemel dit van visse – nie sommer net sardientjies nie, maar sommer gróót visse! Dit is toé dat Petrus besef dat dit Jesus is wat op die strand staan. Hy trek sy hemp haastig aan en spring in die see om die laaste ent strand toe te swem. Skielik het hy nou sy selfvertroue terug. Iets begin nou in sy gedagtes posvat: dit is nie hy wat Petrus is wat sterk is nie, maar Jesus, sy Meester, wat hom daardie krag gee. Elke keer as hy iets sonder Jesus wil doen, dan misluk hy, maar as Jesus bykom, dan staan hy sterk soos ‘n rots. Inderdaad moes Petrus ‘n paar weke later uitvind dat wat hy tot dusver beleef het nog niks was nie, want toe die Heilige Gees eers sy lewe oorgeneem het, het hierdie rots, Petrus, uitgestyg as die onwrikbare, onverskrokke man van God wat selfs die magtige Joodse Raad kaalvuis aanvat!

Inderdaad het Petrus daardie oggend vroeg, daar op die strand, ook geleer dat om in jou eie krag vis te vang, jou niks in die sak bring nie. Met Jesus saam kan jy baie visse vang. Jesus het dit ook vir hom verduidelik dat hierdie visse in die see nie is wat Hy in gedagte het vir Petrus nie, maar dat hy vir Jesus visse van mense sal vang in oorvloed. Hierdie ou paartjies (daar was 153 visse) wat hulle op die strand uitgesleep het, is nog niks teen die magdom van menslike visse wat daar gevang sou word nie. Ja, op Pinksterdag alleen was die vangs drie duisend!

Ons is ook vissermanne (en vroue). Petrus se verhaal het ons geleer dat ‘n mens nie in eie krag kan visvang nie en probeer jy dit, sal jy hopeloos faal. Maar in die krag van die Heilige Gees kan ek en jy baie suksesvol wees in ons pogings om visse vir Jesus te vang. Toe ek begin om te skryf, het ek besef dat ek totaal en al glad nie opgewasse is daarvoor om so ‘n taak aan te pak nie. Ek het selfs allerhande maniere probeer om daaruit te kom – selfs ‘n klomp predekers gekontak om my daarmee te help. Dit was puur verniet, want die Here wou mý gebruik om Sy boodskap oor te dra. Dalk het Hy geweet dat as Hy iemand gebruik wat niks van skryfwerk af weet nie, sal Sy eie boodskap suiwer deurkom. Dit is nou reeds byna vier jaar wat Hy my dra. Ek skryf in diepe afhanklikheid van Hom, die Outeur hiervan, want sonder Hom is ek nie in staat om ‘n enkele woord te skryf nie.

Ek sê dit sodat jy kan weet dat om die Evangelie aan enigeen oor te dra, vra van jou om dit te doen in volle afhanklikheid van die Heilige Gees, want alleen Hy kan mense oortuig van hulle sonde. Doen jy dit, sal jy ‘n suksesvolle visser van mense word.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 199 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *