Lukas 20:20~26

Belasting – Lukas 20:20-26.

Vandag staan ons ‘n bietjie stil by ‘n baie netelige kwessie: die een oor ons verhouding teenoor die regering. Nou ja, net die blote noem van die naam van daardie instansie maak baie manne al warm onder die boordjie. Baie van die lesers wat hierdie e-pos nou in die buiteland kry, is daar waar hulle is juis omdat hulle dit nie meer met hierdie regering kon uithou nie.

In die tyd toe hierdie Evangelie sy ontstaan gehad het, was dit nou nie juis makliker nie. Die ergste van alles was dat ‘n mens nie eers kon wegvlug oorsee as dinge totaal onhoudbaar vir jou raak nie, want die Romeinse regering het die ganse wêreld besit! Waar jy ookal gaan is die keiser steeds jou baas, of jy daarvan hou of nie! Vir die Jode was dit nog soveel erger, want deur die eeue is die land regeer deur gelowige Jode soos hulle geliefde koning Dawid. Daar was wel lelike af-tye waar Goddelose konings geheers het, maar ten minste was hulle Jode! Maar nou – nou is die keiser wat heers vanuit Rome ‘n totale heiden wat nie eers hulle taal kan praat nie. In plaas daarvan om die God te dien wat hulle ken, dien hierdie man en sy ganse regering vreemde gode waarvan hulle nog nie eers gehoor het nie.

Ek dink die arme Jode moes baie swaar gehad het. Waar jy ookal gaan is daar die alewige Romeinse soldate wat elke beweging van jou dophou. Hulle kan jou selfs dwing om hulle te help of om hulle bagasie te dra. Durf jy jou net teësit, dan is dit tiekits met jou. Boonop is daar ook al die vreemde kulture wat hierdie heidene die land ingevoer het om die geestelike en kulturele waardes wat die Jode oor eeue mee saamgeleef het te vergiftig. Die ergste van alles is dat hulle wat die Joodse volk is, swaar moet belasting betaal, gedeeltelik juis om hierdie strukture wat hulle so haat in stand te hou. En dan gaan hulle swaarverdiende ou geldjies boonop nog om die keiser in absolute weelde te laat leef terwyl hulle moet krepeer van die ellende.

Dit is onder hierdie agtergrond wat die Fariseërs ‘n paar stroopgesig manne stuur na Jesus. Hulle maak asof hulle baie eerlik is met hulle vraag aan Hom, maar eintlik is hulle enigste agenda om Hom vas te trek. Eers kom hulle vir Jesus by met ‘n baie stroperige heuningkwas en hulle maak asof Hy in hulle oë so ‘n wonderlike Rabbi is. Dit is so ironies dat al die lofsange wat hulle Jesus toedig absoluut waar is. Die tragiese is dat hulle nie ‘n enkele woord daarvan bedoel nie. En dan vra hulle of dit (in die lig van wat ons hierbo sien) dan reg is vir ‘n gelowige Jood om nog steeds belasting te betaal aan daardie Goddelose keiser?

Hierdie was ‘n baie lelike strik waarop Jesus beslis nie net “ja” of “nee” kon antwoord nie. Sê Hy dat jy maar moet betaal, dan sal Sy aanhangers aansienlik krimp, want niemand het ooghare vir die keiser nie. Sê Hy egter nee, dan is Hy in groot moeilikheid by die Romeine. Maar hierdie slim manne het beslis nie rekening gehou met Jesus nie, en die manier wat Hy die uiters plofbare situasie hanteer kan nie anders as briljant beskryf word nie.

Hy vra vir hulle vir ‘n muntstuk, en iemand bring ‘n Romeinse silwer dinarius te voorskyn. Op die muntstuk is die keiser se kop afgebeeld. “Wie is dit daardie?” wil Jesus van hulle weet. Natuurlik moet hulle erken dat die keiser lewensgroot op die muntstuk pryk – nie dat hulle juis hou van wat hulle moet aanskou nie!

“Nou ja”, sê Jesus vir die klomp huigelaars, “gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort”, maar daar eindig Hy nie, want daar is ‘n baie belangriker deel wat moet bykom, “en gee aan God wat aan God behoort”, speel Jesus die troefkaart.

Hierdie strikstellers wou dit nie openlik erken nie, maar Jesus se antwoord het selfs vir húlle verwonderd gelaat.

“Ja sien jy,” word ons gedwing om te sê wanneer ons hierdie gedeelte lees, “mens moet maar doen wat jou regering sê, al hou jy nie daarvan nie!” Uit verskeie uitsprake in die Nuwe Testament is dit duidelik dat ons as gelowiges nie anders kan as om aan die regering sy deel te gee nie, al is hierdie regering ook hóé korrup en heidens, want die regering is daar omdat God dit toegelaat het. Dit beteken nie alleen die betaal van belasting nie, maar ook om die nodige eer te gee, al is dit ook hóé bitter.

Ons vergeet egter gerieflikheidshalwe die tweede deel van Jesus se uitspraak, naamlik om aan God te gee wat Hóm toekom. Ja, dalk gee ons Hom baie dank en eer en aanbidding, maar Hy vra ook van ons opoffering. Hy vra dat ons ‘n bietjie van die tyd wat Hy ons gegee het moet afstaan vir Sy diens. Hy vra ons om ‘n bietjie van die geld wat Hy ons gegee het op te offer vir ‘n saak wat Hy ons op die hart lê. Hy vra ons om lief te hê en ons harte oop te maak vir ander mense in nood. Hy vra ons om wêreldse plesier op te offer en van die sonde weg te hardloop. Kom ons gee Hom vandag wat Hom toekom.

Here, ek staan baie skuldig voor U, want ek gee nie aan U wat ek moet nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 64 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *