Galasiërs 6:1-9

Met ‘n mond vol tande.
Galasiërs 6:1-9
Wat ek vandag doen, het ‘n impak op my paadjie anderkant die hemelse hekke.

Dis ‘n moeilike stelling, so laat ek verduidelik.

As ek die Bybel reg verstaan, is daar hofsale in die hemel. Dit klink vir my amper soos ‘n hofsaak wat ons sal moet deursit waar daar gekyk gaan word na hoe ons op die aarde gelewe het. En dit lyk vir my of ons elkeen ‘n spreekbeurt gaan kry. Jip, op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee. En ek hoor niks van prokureurs wat namens ons ons saak gaan verdedig nie. Nee, elkeen sal op sy eie daar moet staan en sy storie spin.

Nou sien ek al hoe staan mense se hare regop en ek hoor hoe hulle begin verdedig dat Jesus ons prokureur is en ons saak vir ons sal waarneem. Dit is so. Maar Hy het ons verdediging waargeneem in ‘n vorige saak met sy eie saaknommer. Dit is die saak waar ons aangekla word vir al die sonde wat ons gedoen het. Hier staan Jesus mos op en wys sy hande na die regterbank en vertel presies wat Hy vir ons gedoen het. Hy vertel dat Hy aan die kruis gesterf het en reeds die straf gedra het vir elke sonde waarvoor ons aangekla word. Eintlik het Hy reeds daar aan die kruis die skuld gedra. Dus kan ons tegnies nie aangekla word vir die sondes wat ons gedoen het nie, want die straf vir sonde kan nie twee keer gedra word nie. Die straf is betaal.

Ons saak word van die hofrol geskrap en ons stap as vry mense daar uit. Ons plekkie is in die hemel verseker. Daaroor kan ons maar rustig slaap.

Na die hofsaak is daar nog een plekkie waar ons sal moet draai voor ons in die hemel se speelparke losgelaat gaan word. Ons sal voor God moet verskyn. En soos ek vir God ken, sal dit seker nie ‘n hofsaak wees nie. Dit sal eerder ‘n lekker gesels wees op rustige banke met ‘n koppie tee in die hand. God sal seker besorg vra hoe dit met die reis van die aarde na die hemel gegaan het. Dalk sal Hy uitvra oor ons geliefdes wat ons noodgedwonge moes agterlaat en of ons hulle reeds mis. Hy sal seker opgewonde die lewe vorentoe met ons deel. Hy sal heel waarskynlik nie sy opgewondenheid om ons daar by Hom te hê, kan wegsteek nie en ons sommer ‘n stywe druk gee.

As ek vers 5 reg verstaan, gaan ons in dié gesprek ‘n laaste keer ‘n draai by ons aardse lewe maak. God sal ons uitvra na hoe ons ons lewe geleef het. Ek vermoed God gaan vra hoe ons by ons interpretasie van sy Woord uitgekom het en hoe ons dit wat Hy vir ons voorgestel het om die lewe te leef, uitgeleef het. Die kans dat God net een vraag gaan vra is seker goed: Het jy my eerste gebod uitgeleef daar waar jy by die werk, besigheid, huis, tussen kollegas, tussen vriende en familie was? Het almal in jou invloedsfeer my liefde gesien? Het hulle my hande en voete aan hulle lywe ervaar?

Ek wonder of ons ‘n mond vol tande gaan hê?

Partykeer voel dit vir my of ons die genade van God net so ‘n entjie te ver trek en op ‘n manier leef asof everything goes. God se genade is kosbaar en ons moenie daarmee mors nie. Jesus het vir elkeen wat in Hom glo ‘n plek in die hemel voorberei, maar ons het nog steeds ‘n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons manier van lewe in lyn is met God se wil. Hieroor sal ons eendag moet gaan terugvoer gee.

Sommige sal dalk moet gaan please and explain.

Kom ons maak ons taak ligter sodat ons nie sal wil wegkruip vir God nie. Kom ons sien uit om in God se arms te spring en opgewonde te vertel oor hoe ons dit reggekry het om sy hande en voete hier op aarde te wees.

Om oor na te dink
Glo jy dat Jesus ook vir jou ‘n plek in die hemel voorberei het?
Ervaar die mense om jou jou dankbaarheid?
Sien jy uit om met God te gesels oor jou lewe hier op aarde?
Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat U Seun vir my ‘n plek by U voorberei het. Ek wil my dankbaarheid in die wêreld gaan uitleef, maar ek moet bieg: Ek sukkel ‘n bietjie daarmee. Ek wil eendag opgewonde met U gesels, maar op die stadium vermoed ek ek sal aan die skaam kant wees. Help my om reg te maak en gereed te wees wanneer U my kom haal, in Jesus Naam. Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 84 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *