Hooglied 8:6:

BORS.

Vandag praat ons oor die bors en ek het die volgende tekste gekry oor die woord bors:
Hooglied 8:6: “Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou arm. Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur.”
EN
Jesaja 40:11: “Soos ‘n herder versorg Hy Sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in Sy arms en Hy dra hulle teen Sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”

Die eerste handel oor die verliefde man, wat sy gevoel van liefde vir sy vrou beskryf en dan die mooiste woorde gebruik om die intensiteit van sy gevoel van liefde te verklaar. Ons praat oor die verskillende liefdes wat mens kry. As jy op ‘n ouer ouderdom weer moet verlief raak, dan is die liefde baie anders.

Toe ons kinders was en hier op die ouderdom van 18 en 20 en 24 verlief geraak het, was daar by geleentheid sulke pyne in mens se bors van verliefdgeit. Mens kon gedigte skryf en van brûe af gaan ‘bungee’ en allerhande goed doen, want mens het die lewenslus en die energie en die jeugdige voortvarendheid. Maar as dit kom by iemand van 50 of 60 wat weer vrou wil vat, dan is daar ander gevoelens en dink mens soms dat hierdie liefde eerder die ware Jakob is as die wat mens beleef het as mens jonk is. Dis egter maar net dat dit gaan oor lewenservaring en dat dit hier gaan oor ‘n beter verstaan van jou liefdesgevoel vir hierdie nuwe maat in jou lewe. Mens kan dalk nou meer waardering hê vir ‘n drukkie, terwyl mens as jong mannetjie meer, of ander goed, sou wou hê.

Nogtans is die liefde wat die verliefde hier beskryf en wat ‘n man vir ‘n vrou het (natuurlik ook andersom), maar dat dit die mooiheid van ‘n bruid en bruidegom voorstel en waar ons weet hoedat God ons so liefgehad het, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê. Ons weet hoedat ons as Sy volk beskryf word, as die bruid wat gereed gemaak word vir die bruidegom, wat met Sy wederkoms ons sal kom haal.

Iets wat my opval, is die pragtige byvoeging van die seëlring, iets wat ons op ons bors kan dra, teen ons hart kan druk, dat ons weet dat God ons teen Sy bors druk en dat God ons die versekering gee – ‘n seël gee dat Hy ons liefhet en nie sal toelaat dat ons verlore gaan nie. Ons sal soms alleen voel en soms verlate voel, maar die seëlring op jou bors sal jou herinner aan Sy groot liefde.

En dis natuurlik presies wat in die tweede teks beskryf word: Hoedat Hy ons lief het en ons teen Sy bors druk en ons dra soos ‘n Herder Sy skape sal versorg, so sal Hy ons ook versorg en oppas.

Dankie, Vader, dat U ons so lief het en aan ons die versekering gee dat ons styf teen U bors vasgedruk word. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 128 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *