Lukas 17:1-10.

Moeilike Opdragte – Lukas 17:1-10.

Verskeie mense het my al dikwels gevra: “Hoe weet ek vir wie om te gee, en wie die ouens is wat net geld soek vir ‘n botteltjie vuurwater?” Die antwoord is glad nie so eenvoudig nie! Ek is persoonlik al dikwels ingeloop deur gladdebek swendelaars wat huilend ‘n droewige storie vertel wat jou hart vermurwe, en dan gee jy maar. Maar intussen lag die persoon jou uit omdat jy geval het vir sy truuk! Die feit is dat jy nie altyd sal kan onderskei tussen ware behoefte en swendelary nie. Dit is egter op daardie persoon se gewete – God is die Een wat sal oordeel.

In vanoggend se Skrifgedeelte vertel Lukas van vier moeilike uitsprake wat Jesus gemaak het, dinge wat elke dag op ons pad kom en wat ons meeste van die tyd totaal verkeerd hanteer.

Die eerste een kan ‘n baie irriterende opdrag wees, want dit vra van jou as gelowige om sekere dinge in jou lewe prys te gee ter wille van ander jong gelowiges. In kort kom dit daarop neer dat iemand wat pas tot geloof gekom het, nog soos ‘n baba is, bitter broos, en die geringste dingetjie kan hom laat struikel. Jy moet dus baie versigtig wees wat jy teenoor daardie persoon sê of wat jy doen, sodat jy nie dalk die oorsaak is van sy val nie. So is daar byvoorbeeld baie vraagstukke in die Bybel waarvoor ons net eenvoudig nie ‘n klinkklare antwoord het nie. Vir die “ou” gelowige is dit nie ‘n probleem nie, want hy aanvaar dit in die geloof. Vir die splinternuwe gelowige kan dit ‘n onklimbare berg wees, dus vermy jy liewer die onderwerp as jy met hom praat. Daar kan ook goed wees wat jy as vanselfsprekend aanvaar, en wat vir hom ‘n struikelblok kan wees. Dan maak jy eerder die opoffering om daarvan weg te bly ter wille van hom.

Die tweede opdrag is om met jou medegelowige te praat as hy iets verkeerd doen. Dit is natuurlik iets wat ons baie maklik doen! Die moeilike deel kom egter by: dat jy hom moet vergewe as hy jou te na gekom het. En as hy dit die dag sewe keer doen, dan vergewe jy hom sewe maal. Elders sê Jesus vir Sy dissipels dat jy iemand sewentig maal sewe keer moet vergewe, en dit beteken nie dat jy moet gaan sit en tel nie! Dit is bitter moeilik om iemand wat jou grensloos irriteer maar net oor en oor en oor te vergewe sonder om iets teen hom te hou.

Die apostels het besef hoe moeilik dit is om by hierdie voorskrifte van Jesus te bly, en daarom vra hulle Hom dat Hy vir hulle meer geloof sal gee. Jesus se reaksie is dat Hy vir hulle dit nog duideliker maak hoe radikaal Sy eise eintlik is. Hy verduidelik dat as hulle maar ‘n geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, dan sou hulle berge kon versit.

As ‘n klein bietjie geloof sulke radikale aksies sou kon regkry, dan is daar maar net ‘n ou titseltjie geloof nodig om Jesus se opdragte te kan uitvoer. Ja, inderdaad is Jesus se eise baie hoog, en as gelowige sien ons dit vandag steeds dikwels as ‘n Everest hindernis. Maar die feit is dat iemand wat dit in die geloof wil waag, die verrassing kry dat daardie stap gepaard gaan met haas-onmoontlike krag. Baie sendelinge kan vandag daarvan getuig dat waar hulle in onmoontlike situasies ingestap het, wonderwerke gebeur het. Die groot geheim is dat ons in die eerste plek die Heilige Gees het wat ons onmeetbare krag kan gee.

Daar is egter ‘n gevaar aan verbonde: Ons durf nooit, ooit hierdie Bron van krag misbruik deur God se arm te probeer draai of om Hom te manipuleer nie. Ons durf God nie probeer dwing nie! In die tweede plek durf ons geloof nooit, ooit as ‘n soort toorkrag sien waardeur ons God kan beheer nie, of dit vir ons eie voordeel gebruik nie. Dit moet te alle tye om die eer van God gaan.
Dit bring ons by die vierde opdrag, wat half in teenstelling is met ander uitsprake van Jesus. Deur ‘n gelykenis verduidelik Jesus dat ons soos slawe moet wees teenoor God. “Maar ons is mos Sy kinders!” wil ons dit uitskreeu. Tóg is ons as gelowiges in ‘n sekere sin soos slawe: ‘n slaaf verdien absoluut niks nie, want hy is sy eienaar se eiendom, gekoop deur hom.

Ons is duur gekoop! Ek en jy het absoluut niks gedoen om God se guns te verdien nie. Alles wat ons gedoen het is ‘n gruwel in Sy oë. Nogtans het Hy ons gered en ons die saligheid gegee. Om daardie rede dien ons Hom met alles wat in ons is, sonder om gunste van Hom terug te verwag. Ons dien Hom omdat ons dankbaar is dat Hy ons uit die kloue van die duiwel geruk het en vir ons die voorreg gegee het om deel van Sy “gesin” te wees. Om dus te sê: “Here, ek sal hard werk vir U, maar dan wil ek graag ‘n mooi huis hê”, is totaal verkeerd. Maar nogtans, ten spyte van al ons tekortkominge, en ten spyte daarvan dat ons Hom so dikwels bedroef, oorlaai Hy ons elke dag met genadegawes. Kom ons leef dankbaar, en dien Hom met alles wat ons het!

Here, al wat ek vanoggend kan sê is: “Dankie, dankie, dankie!” Ek verdien niks hiervan nie!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 66 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *