Lukas 18:18-30

Begeertes – Lukas 18:18-30

Begeertes was al baie mense se einde. Die hele ding met begeertes het al in die paradys begin, toe Eva so ‘n verskriklike begeerte gekry het vir daardie verbode vrug. Ek meen, die ganse tuin was tot oorlopens toe vol van allerhande van die sappigste vrugte, maar Eva wou opsluit dáárdie een waarop God ‘n verbod geplaas het hê. Ja, en die geskiedenis het bewys dat sy haar vrug gekry het en dat sy vir Adam ook verlei het daarmee en dat hulle die tuin uitgeskop is.

Die tiende gebod sê dat jy nie mag begeer nie. Dit is die héél moeilikste van al die gebooie om te onderhou. En dit is juis die probleem van die ryk jong man met wie Jesus gesels het. Hy was ‘n goeie kêrel – het sy bes probeer om streng volgens die wet te leef. Hy het ook groot respek gehad vir Jesus, en hy het geweet waar om te kom soek vir die één antwoord wat hom bly ontwyk – om die ewige lewe te kry. Dan noem Jesus ‘n rits gebooie, en die man sê eerlik dat hy hulle almal van kleintyd af onderhou. Eén gebod wat Jesus egter aspris uitlaat is die tiende gebod. Hy het geweet dat hierdie gebod ook die jong man se groot struikelblok is. “Verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit.” Jesus druk sy vinger reg op die seer kol. Lukas vertel vir ons dat die arme man nét daar omgedraai en weggestap het, sonder dat hy die ding waarvoor hy gekom het, die ewige lewe, kon kry. Die man was so verknog aan sy aardse besittings dat dit tussen hom en God kom staan het.

Terwyl die man so met geboë skouers wegstap, draai Jesus na sy dissipels toe, en Hy sê vir hulle dat dit feitlik onmoontlik is vir ‘n ryk mens om in die Koninkryk te kom. Hy gebruik die voorbeeld, dat dit makliker is om ‘n reuse kameel deur die piepklein gaatjie van ‘n naald se oog te druk as vir ‘n ryke om in die hemel te kom.

Sy disspels is verslae: Maar dan is dit mos totaal onmoontlik om óóit in die hemel te kom. Niemand sal dit ooit daarheen maak nie. Maar Jesus stel hulle gerus: by God is niks onmoontlik nie. Wat vir ons totaal onmoontlik lyk, is by God tweede natuur. Die feit is dat as jy bereid is om die Here toe te laat om jou lewe te verander, dan kan jy ‘n totaal nuwe mens word, selfs in die onmoontlikste omstandighede.

Let wel dat Jesus nie hier sê dat dit sonde is om ryk te wees nie. Dit is egter wat jy met jou rykdom doen wat sonde kan wees. Alles kom neer op gesindheid: met watter soort gesindheid in jou hart hanteer jy jou geld? Ongelukkig is dit so dat rykdom baie maklik ‘n mens se afgod kan word. As die miljoene begin instroom, dan klou jy krampagtig vas aan elke sent wat jy verdien het. En hoe verder dit gaan, hoe moeiliker raak dit om jou rykdom te deel met die armes. Jy begin bou as’t ware ‘n muur tussen jou en God met geld en besittings.

Maar ek ken ook baie ryk mense wat diep gelowig is en gedurig met ‘n oop hand staan. Vir hulle is hulle besittings slegs deur God aan hulle geleen. Hulle is die rentmeesters om hierdie besittings en geld te gebruik tot eer van God en tot diens aan hulle medemens. Daar is ‘n paar van hulle in ons eie gemeente, en jy kan duidelik sien hoe die geluk en liefde uit hulle lewens straal. Maar daar is ook arm mense in ons gemeente met dieselfde gesindheid, mense wat bereid is om die ou bietjie wat hulle het óók met minderbevoorregtes te deel. Die regte begeerte om te koester, is die begeerte om naby aan die Here te leef, en om Sy wonderbare liefde ten volle uit te leef!

Here, leer my asseblief om nie so verknog te wees aan my besittings nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 69 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *