2 Samuel 14:8

WEES RUSTIG.

2 Samuel 14:8: “‘Gaan maar huistoe,’ sê die koning vir haar. ‘Ek sal self jou saak behartig.'”

Wat jou ookal onrustig stem vandag, hou op om jou daaroor te bekommer. Laat die saak aan die Here oor. Toe jy jou lewe aan Hom gegee het en belowe het om Hom onvoorwaardelik te volg en op Sy voorsiening staat te maak, het Hy hierdie belofte ook vir jou gegee.

Die Here God Almagtig is die Koning van al die konings. Selfs die magtigste heerser wat nog ooit op aarde was, is of sal wees, moet voor Hom buig en erken dat Hy die Opperheerser is. As jy hierdie stelling en die een oor jou oorgawe aan Hom glo met jou hele hart, sê hierdie Almagtige God vandag vir jou: “Gaan huistoe, wees rustig, gaan aan met jou dagtaak, moet jou nie verder bekommer nie. Ek behartig self jou saak. Ek sal dit tot jou voordeel oplos.”

Dankie, Here, dat ek weet in Wie my vertroue is en dat ek hierdie belofte vandag vir myself kan vasgryp, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 57 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *