DIE VOORREG VAN GEBED

DIE VOORREG VAN GEBED – (Vertaal).

Ek deel vandag met jou ‘n oordenking wat deur SAMMY TIPPIT van Sammy Tippit Ministries geskryf is.

Dit was in die vroeë oggendure en ek was vas aan die slaap. Skielik skril die geluid van die telefoon deur die kamer. Ek was duisende kilometers en ‘n hele oseaan weg van my huis en niemand het die telefoonnommer van die hotel waar ek bly nie. “Wie op aarde sou hierdie tyd van die oggend bel?” wonder ek.

Die stem aan die ander kant van die telefoon sê: “Goeiemôre Sammy. Dit is die Eerste Minister.”

Glo my, dit het my nie lank geneem om heeltemal wakker te word nie. “Goeiemôre, Meneer die Eerste Minister,” antwoord ek.

“Ek wil jou graag ontmoet. Sal dit vir jou moontlik wees om vanoggend na my kantoor toe te kom?” vra die Eerste Minister.

Dit het nie lank geneem om sy vraag te antwoord nie. Dit het ook nie lank geneem om aan te trek en gereed te maak om na die Eerste Minister se kantoor toe te gaan nie. Wanneer die leier van ‘n land jou nooi om in sy teenwoordigheid te verskyn, sê jy nie nee dankie nie. Jy maak dadelik gereed en sorg dat jy so gou moontlik by sy kantoor uitkom.

Net so word elke Christen genooi om in die teenwoordigheid te verskyn van die Eerste Minister van alle eerste ministers, die President van alle presidente, die Koning van alle konings – Jesus Christus. Hy nooi ons om vroeg in die oggend te ontwaak en Hom te ontmoet vir ‘n private gesprek. Die God wat die sterre in die hemel gehang het; die God wat aan die maan sy plek gegee het; die God wat elke ding wat bestaan gemaak het; hierdie selfde God wil ‘n persoonlike en private ontmoeting met jou en my hê.

Daar is geen groter voorreg as om Hom te ontmoet nie. Hy is absolute reinheid. Daar is geen boosheid in Sy karakter nie; geen onregverdigheid in Sy handelinge nie; geen donkerte in Sy Persoon nie. En óns lewens is vol sonde, bedrog en mislukking. Hy red ons deur Sy genade. En Hy onderhou ons deur Sy genade. Dit is alles Sy genade. Ons is wat ons is as gevolg van Sy genade. Deur Sy genade, nooi Hy ons om in Sy teenwoordigheid te verskyn. Ons moet eintlik vlug en vir hierdie heilige God wegkruip, maar deur die genade van Jesus, word ons genooi om in die teenwoordigheid van absolute Majesteit te verskyn. Wat ‘n voorreg is dit nie!

Jesus het gesê: “…en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (Johannes 6:37). Die Seun van God nooi ons in Sy teenwoordigheid in. Die hemelse telefoon lui elke oggend, en Sy teer stem sê: “Dit is die Koning van alle konings, die Heer van alle here. Ek wil jou graag ontmoet. Sal jy in My teenwoordigheid verskyn?”

Hy nooi. Só ‘n eer; só ‘n voorreg wat aan ons gegee word. Ons behoort elke oggend wakker te word met ‘n gevoel van opwinding oor Sy uitnodiging. Ons behoort op te staan, onsself gereed maak en dadelik in Sy teenwoordigheid inhaas. Hy wag!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 105 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *