Galasiërs 5:16

www.versndag.co.za

Neville Turley

Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” Galasiërs 5:16

Sommige mense is nooit tevrede met wat hulle het nie. Hulle verlang altyd na meer of na iets anders.

Amasia was 25 toe hy in 800 v.C. koning van Juda geword het. Hy het Edom oorwin deur 10 000 Edomiete in ‘n geveg te verslaan. Aangespoor deur sy sukses het hy besluit om koning Joas van Israel uit te daag tot ‘n oorlog.

Koning Joas het met ‘n gelykenis geantwoord. (2 Konings 14: 8-10). ‘n Doringbos het ‘n boodskap aan ‘n seder gestuur: “Laat jou dogter met my seun trou.” Die wilde diere het toe verby gekom en die doringbos plat getrap.

Joas het toe vir Amasia hierdie goeie raad gegee. “Noudat jy Edom ‘n groot neerlaag toegedien het, soek jy meer roem. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot ‘n val kom, jy en Juda saam met jou?”

Miskien het Amasia dit as ‘n belediging beskou dat koning Joas na hom as ‘n doringbos verwys het en na homself as ‘n seder. Instede om na die raad te luister, het hy die wapen teen Israel opgeneem. Joas het besluit om terug te veg en Amasia se leër verslaan. Hy het toe Jerusalem binnegeval, die stad beroof, al die skatte uit die tempel gevat asook ‘n hele klomp mense gyselaar geneem.

Amasia moes seker hierdie onbesonne besluit om oorlog teen Juda te voer, diep berou het. Nie net het dit vir hom rampspoedige gevolge gehad nie, maar ook vir sy mense.

Ons neem ook soms sulke onbesonne en ondeurdagte besluite. Ons moet nooit vergeet dat ons besluite nie net ‘n impak op ons het nie, maar ook op diegene naby ons.

Gelukkig hoef Christene nie haastige besluite te neem nie; die Here het ons nie alleen gelaat om alles op ons eie te hanteer nie. Ons het die Heilige Gees wat ons lei en een van die vrugte van die Gees is geduld. (Galasiërs 5:22-23)

Wanneer ons ‘n besluit moet neem, moet ons eers die wil van God soek en geduldig wag op sy leiding. Hy wat jou bewaar, sal ook vir jou die pad wys.

Gebed: Almagtige God, maak ons voortdurend daarvan bewus dat ons nooit alleen is nie. U is altyd by ons en U lei ons op die pad vorentoe. Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 81 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *