Jakobus 1:2

BEPROEWINGS.

Jakobus 1:2: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom…”

Ek het iewers gelees dat die Griekse woord vir ‘beproewings’, wat hier in Jakobus gebruik word, ‘peirasmos’ is. Dit beteken ‘eksperiment’. Die doel van ‘n eksperiment is om ‘n teorie te bewys. Soms wil God vir ons waarhede omtrent onsself of omtrent Hom demonstreer. Dan bring Hy beproewings (eksperimente) oor ons pad om byvoorbeeld vir ons te bewys dat ons Hom in alle situasies kan vertrou. Dit bring ‘n hartskennis mee, waar ons andersins net ‘n kopkennis of teorie sou hê.

Is die Here dalk besig met ‘n ‘eksperiment’ in jou lewe? God mors nooit dinge wat oor ons pad kom nie. Onthou vir Josef wat besef het dat dit wat sy broers bedoel het om hom skade te doen, God gebruik het om hulle lewens te red. Vertrou die Here dat Hy weet wat Hy besig is om te doen, gaan sit by Sy voete en vind uit wat Hy vír jou (of dalk vir iemand anders) of ín jou deur die beproewing wil doen.

Hemelse Vader, dankie dat U nooit ‘n beproewing in my lewe mors nie. Dankie dat elke ding wat met my gebeur eers deur U liefdevolle hande gaan voor dit by my uitkom. Dankie vir wat ek kan leer aangaande U en aangaande myself wanneer ek in ‘n beproewing is! In Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 76 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *