Lukas 19:28-44

Die Groot Intog – Lukas 19:28-44

Wanneer ek dink aan Jesus se intog in Jerusalem, dan begin die musiek van die Groot Mars uit die opera Aïda onwillekeurig in my kop maal. Daardie ongelooflike mooi musiek wat die groot triomftog uitbeeld, laat hierdie optog van duisende singende, palmtakswaaiende mense wat so opgewonde voor die Koning uitdans lewe kry in my gemoed. Tóg was dit so verskriklik anders.

Ons toneel vanoggend begin waar Jesus en Sy reuse gevolg die buitewyke van Jerusalem bereik. Daar heers nou baie groot opgewondenheid onder die skare, want hier vlak voor hulle is die eeue-oue klipmure van die stad Jerusalem. Teen die Olyfberg loop hulle deur twee klein dorpies, Betfage en Betanië.
En dan kom die hele groot stoet skielik tot stilstand as Jesus gaan staan. Die spanning bou op tot ‘n breekpunt: wat gaan Hy doen? Jesus vaardig twee van sy dissipels af om in die dorpie hier voor hulle ‘n donkie te gaan haal. Maar dis nie sommer enige donkie nie! Hy beskryf vir hulle presies waar hulle daardie donkie, waarop niemand nog ooit gery het nie, vasgemaak sal kry. “Die Here het hom nodig”, verduidelik hulle vir die eienaar van die donkie terwyl hulle haastig die rydier vir Jesus neem.
Nou sal jy dalk vra waarom Jesus se donkie een moes wees waarop nog nooit gery is nie? In die eerste plek is die Ou Testamentiese voorskrifte vir ‘n offerdier, dat dit een moet wees wat afgesonder is vir die Here, en dus nie vir alledaagse take gebruik moes word nie. In ‘n sekere sin is hierdie donkie ‘n “offerdier”. Maar daar is ook ‘n tweede rede: Die rydier van ‘n koning word slegs deur die koning gebruik. Niemand anders durf op hom ry nie, en hy moet afgesonder wees vir die koning alleen.

Nou waarom dan ‘n simpele donkie? Kon dit nie maar ‘n trotse perd gewees het nie? In die Bybelse tyd het ‘n donkie ‘n baie hoër status gehad as vandag, en dit is beskou as ‘n koninklike dier. Die blote feit dat Jesus Jerusalem sou binnery op ‘n donkie, het vir die skare wat Hom volg Sy koningstatus bevestig.

Hulle het baie goed verstaan presies wat hier besig is om te gebeur.

Triomfantlik ry Jesus dus die stad binne, en sê daarmee dat Hy daarop aanspraak maak dat die pragtige stad Syne is. Belangriker nog, sinspeel dit dat ook die tempel in Jerusalem aan Hom behoort!

Die skare is in ekstase: nie alleen gooi hulle hulle klere op die donkie se rug vir Jesus om op te sit nie, maar hulle gooi ook hulle klere op die pad voor die donkie sodat die Koning daaroor kan ry. In my gedagtes sien ek die singende, dansende, juigende menigtes al om Jesus op die donkie. Die groot triomftog het begin. Bo van die Olyfberg af loop die pad ‘n afdraende onder na die stadspoorte toe. Wanneer hulle hierdie laaste afdraende vat, raak die skare rasend van opgewondenheid. Uit volle bors bulder hulle lofprysings uit oor al die wonderdade van Jesus. “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” jubel hulle Psalm 118 uit sodat hulle lied weerklink oor die klowe. “Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” Uiteindelik kry Jesus die eer wat Hom toekom – Hy is immers die Christus!

Maar alles is nie wel in die skare nie. Daar is ‘n paar manne wat baie bitter is. Hulle sien die dinge wat besig is om te gebeur as Godslastering. “Maak asseblief jou volgelinge stil!” probeer hierdie Fariseërs bo die lawaai uit vir Jesus oorreed. Maar Jesus maak dit vir hulle baie duidelik dat dit nie sal gebeur nie, want as die mense Hom nie so vereer nie, sal selfs die klippe dit uitjubel!

In die slottoneel sien ons vir Jesus nét voor Hy die stad binnery: Trane stroom oor Sy wange oor Sy geliefde stad wat Hom nie wil erken as die Messias nie. Buite die stad jubel die skares oor hulle Koning; binne wag stroewe gesigte met moord in hulle harte op Hom. Die oordeel wat Jesus uitspreek oor Jerusalem is verdoemend. Nie baie jare later nie, het elke woord van hierdie profesie van Jesus waar geword. Die Joodse historikus Josephus beskryf in sy lywige geskiedenisboek die beleg van Jerusalem in 70 nC. Hy skryf van die verskriklike verwoesting, toe die tempel sodanig afgebreek is dat daar nie twee klippe op mekaar oorgebly het nie, presies net soos Jesus voorspel het. Vandag staan daar ‘n Moslem moskee, tot afgryse van elke Jood, waar die tempel eens in glorie gepryk het. Hoe verskriklik hartseer.

Wanneer Jesus die poorte van Jerusalem binnery, wag daar op Hom slegs konfrontasie, teenstand, vervolging en marteling. Doelbewus het Hy letterlik in die leeu se bek ingery, want dit was deel van God se groot raadsplan van verlossing. Die dinge wat hier in Jerusalem gebeur, gryp ons as gelowiges aan die hart, want dit is dinge wat bitter seer maak – hoe ons Verlosser, Jesus, so bitterlik verneder moes word en geslaan en aan ‘n kruis vasgespyker. Hoe bitterlik het Hy nie gely nie, en dit sodat ek en jy kan lewe!

Here, in my geestesoog sien ek die jubelende skare, maar ook die kruis aan die anderkant van die mure. Dankie Here, vir die duur prys wat U vir my as sondaar betaal het.

Aan die Koning, van die eeue, die On Verderflike, die Onsien;ike, Alleeen Wyse God, kom to die Eer en die Heerlikheid tot in Alle Ewigheid Amen. AMEN, kom toe die Eer en Heerlikheid tot in Alle Ewi

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 93 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *